Inspirasie | Emosionele Probleme | Tiener Depressie | Die Huwelik | Maskers Emosies | Geestelike Oorlogvoering | Egskeiding en Kinders | Keerpunt Beraders | Opleiding en Seminare | Kontak Ons | Omtrent Onsself | Springkastele

 

Home

Deur Sarita Nortje.

 

INLEIDING   Hoofstuk 1 Hoofstuk 2  Hoofstuk 3  Hoofstuk 4  Hoofstuk 5  Hoofstuk 6

 Hoe is dit moontlik dat iemand wat gister nog normaal funksioneer het, vandag sy gesin uitwis? Hoe is dit moontlik dat ‘n gewilde prediker jong seuns molesteer? Wat gaan verkeerd in ‘n hooggeplaaste persoon se kop as hy sy vrou aanrand? Waarom sal ‘n pa sy seun half in ‘n koma slaan tydens ‘n woede uitbarsting?

Spr.27:17 “Hy wat ‘n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor ‘n twis wat hom nie aangaan nie”

Hoe is dit moontlik dat goeie mense die pad byster kan raak?

Almal van ons worstel een of ander tyd met ‘n krisis in ons lewe, maar hoe ons die krisis hanteer hang af van wat ons binne ons binneste diepste wese ronddra. Dit wat ons hier diep binnekant ronddra, en vir die wêreld wegsteek, dit is die diepste deel van jou wese, dit is die eintlike jy. Jy kan duisende vrae vra oor hoe om die krisis te hanteer, en ja, jy sal duisende antwoorde kry. Natuurlik is ons menslike natuur ook ingestel op raad wat ons graag wil hoor, dit wat sag op die oor sal val. Maar hoe jy dit werklik moet hanteer, hang af van of jy vooraf genoeg moed het om die waarheid in die oë te kyk. Die meeste van ons verkies om vir die waarheid af weg te vlug, en verkies antwoorde wat die gehoor streel, maar om weg te hardloop veroorsaak dat jy jouself al hoe meer vasdraai in jou vervreemdheid vir jouself.

Wat is die waarheid................?

 

Dag vir dag is jy besig om mense tevrede te stel, gee jy jou beste, lyk jy jou beste. Jy glimlag, gesels hier en daar, maar kry jouself gou weer uit die voete. Binne-in jou is daar ‘n oorlog aan die gang. Jy voel omgekrap en ongeduldig, jy voel sat en gedaan, maar dis maar jou lot. Tog voel jy so skuldig omdat jy omgekrap en ongeduldig voel. Jy word misbruik, jy werk jouself lam, doen vir almal gunste, dis maar jou kruis wat jy moet dra - jy is mos so gebore.

 Natuurlik het jy ook nie ware vriende nie, want jy sien, jy het nou ook al geleer jy kan nie op enige iemand staat maak nie, en jy kan nog minder iemand vertrou, want hulle lyk almal soos jou vriende - maar - agteraf....... Jy weet sommer hulle is agterbaks en skinder van jou.

 Vertrou - NOOIT!

Jy kyk om jou rond, ander lyk so gelukkig, ander het so baie vriende, en jy wonder by jouself waarom is jy so anders? Waarom voel jy soms so vreeslik eensaam en verward. Hoekom voel dit vir jou of jou lewe so vervaard is.  Is dit  hoe jy aanmekaar gesit is? Is dit maar hoe jy gebore is?

Jy wonder of jy  maar ook een van die is wat “ gemaak is en so vergeet is?”

Met ‘n glimlag op jou gesig is jy besig om te sink.....sink.....sink....tot in ‘n bodemlose put.

Spr.14:13 “ Ook onder die gelag kan die hart van pyn ly, en die einde van so ‘n blydskap is bekommernis”

 

HOOFSTUK 1   Hoofstuk 1 Hoofstuk 2  Hoofstuk 3  Hoofstuk 4  Hoofstuk 5  Hoofstuk 6

 

WAT MAAK JY EINTLIK HIER?

Het jy al gevoel dat dat jy nie hier op die aarde hoort nie, en dat jy nie kan verstaan wat jou

eintlike doel hier is nie?

Jer 1:5 “ Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken;......”

 Hier is nogal ‘n verassing vir jou. Jy het nie “ toevallig “ die lewens lig aanskou nie, jy was deur God beplan voor Hy jou gevorm het. Die oomblik toe konsepsie ( beplan of onbeplan ) plaasgevind het, het God al van jou geweet. Konsepsie is die kroon van God se handewerk, en soos wat jy week vir week in jou moederskoot ontwikkel, vleg en weef God jou perfek aanmekaar, vir Sy eer.

 Soos wat jy ontwikkel, plant God ‘n unieke persoonlikheid, met spesiale talente, gawes en vermoëns binne in jou. Dit moet ontwikkel word deur spesiale mense vir wie God die opdrag gee - jou ouers.

 Ses maande na bevrugting was jou sentrale senuweestelsel al so gevorm dat jy spesifieke ervarings kan beleef. Hoewel jy nie in daardie stadium die mense om jou kan sien nie, kan jy alreeds hulle hoor praat, en ervaar jy spesifieke emosies wat jou ouers ervaar. Jy is ook intens bewus van jou moeder se gevoel oor die swangerskap, en beleef elke emosie saam met haar. As klein mensie het jy alreeds sekere emosies ervaar, maar hoe interpreteer jy dit?

Jy word toegegooi onder positiewe en negatiewe emosies, en daar is niemand wat vir jou kan verduidelik waarom jy sulke emosies ervaar nie, en jy weet nie hoe om die magdom van emosies te hanteer nie. Jy kan nog nie eers praat nie, maar jy kan alreeds dink, leer en onthou. Waar stoor jy al die emosies en ervarings?

Hoe jy nou jou nuwe lewe as klein mensie tegemoet gaan, hang af van die massiewe taak wat God aan jou ouers gee. Die taak wat God aan jou ouers gee behels om jou Godgegewe persoonlikheid ten volle te laat ontwikkel, jou te vertroetel, liefde te gee, goeie waardes te leer, en Jesus vir jou as voorbeeld voor te hou.

Jy word deur God geskape as ‘n drie eenheid. Jy is gees, woon in ‘n liggaam, en het ‘n siel. Alles wat jy ervaar word in jou siels demensie gestoor. Jou sielsdimensie het twee “ stoorkamers” nl. jou bewuste, waarin jy die hede stoor, en jou onderbewuste, wat die heel diepste van jou persoonlikheid vorm. Jou sielsdimensie is jou “ beheer kamer “ van jou hele lewe. Jou beheerkamer word vanaf konsepsie geprogrameer deur emosies en ervarings wat jy beleef.

Prediker 7:29 “ Kyk, net dit het ek uitgevind; dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.”

Tanya moes vroeg in haar jong lewe hoor dat sy onwelkom was. Male sonder tal moes sy aanhoor dat haar ma haar wou verdrink wanneer sy gebad word. Om haar te dissiplineer, was sy vir ure lank in ‘n donker kole kamertjie opgesluit, en haar rokkies is verbrand as sy dit sou durf waag om met haar ma te stry. Soms moes sy haarself ure lank vermaak met geskenkies van vreemde mans wat haar ma “geselskap” kom hou agter geslote deure. Wanneer die energie van die klein mensie te veel word, was sy vinnig vasgemaak aan die tafelpoot, want haar ma het nie tyd om agter haar aan te hardloop nie. Gemolesteer was sy ook, maar dit was so pynvol dat sy dit vêr weggebêre het, gestoor in ‘n naamlose lêer. Van vroeg af het die klein mensie geleer dat sy onwelkom was, en vrees was deel van haar daaglikse kos.

Jy as kind ervaar verwerping, en interpreteer dit as verwerping, en daar is nie ‘n manier waarop daar vir ‘n kind verduidelik kan word dat hy dit moontlik verkeerd kan interpreteer nie. Die kind verstaan nie waarom hy so verkeerd behandel word nie, en weet ook nie hoe om die emosies te hanteer nie.

Wanneer ‘n kind mishandel word, - hetsy liggaamlik, emosioneel of verbaal,- bo sy vermoeë om dit te hanteer, gee God verligting deurdat die kind die ervaring uit sy bewuste kan “vee”, en dit in die onderbewuste kan stoor. Die emosies is nog daar, maar dit is gestoor, gebêre vir die oomblik, en dit word deel van die kinder-, en later van die volwasse lewe. Die trauma wat te veel is vir die kind om te hanteer word baie diep weggestoor, met die hoop om dit nooit weer te onthou nie.

’n Kind wat sy klein lewetjie en wêreldjie as vyandig beleef, kan nie emosioneel normaal opgroei nie. Die kind glo dat ander mense hom in die steek gaan laat, en hy ontwikkel ‘n verdedigings meganisme om die emosionele pyn weg te steek, of toe te smeer. So ‘n kind bou as’t ware ‘n muur om homself en begin onwetend ‘n masker opsit. Die kind draai sy rug op die mense om hom, en op die wêreld, en sy vrese kom uit as aggressie teenoor die mense rondom hom. Dit blyk vir die ander asof die kind hulle verwerp, maar in sy gemoed ervaar hy verwerping van die andere. Al is die gedrag uit seerkry en verkeerde interpretasies van die werklikheid gebore, worstel die kind ook met valse hoogmoed, en ‘n beheptheid met die eie ek.

 Die jong kind kan nie alleen oor die weg kom nie, en speelgoed of troeteldiere word vir hul belangriker as mense.

‘n Kind wat grootword met die siening dat niemand hom liefhet nie, en dat hy op niemand kan staatmaak nie, bou sy lewe op ‘n verdraaide siening van die werklikheid. Deur die jare word al die verkeerde sienings en gedragspatrone vasgelê, en word dit ‘n leefwyse wat mislei, vol leuens, skuldgevoellens en verwyte. Kinders is baie opmerksaam, maar is nie instaat om die dinge want hulle waarneem reg te interpreteer nie. Dit wat jy as kind begin glo het, bepaal die manier waarop jy dinge wat met jou gebeur as adolosent, interpreteer.

 Die fondament waarop jou kinder jare gebou is, is die basis waarop jy adolossensie binnegaan.

HOOFSTUK 2  Hoofstuk 1 Hoofstuk 2  Hoofstuk 3  Hoofstuk 4  Hoofstuk 5  Hoofstuk 6

ADOLOSSENSIE

“ My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder. Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafels van jou hart, dan sal jy genade vind en goeie insig in die oë van God en die mense. Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die Here, en wyk af van die kwaad; dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.”  Spr 3:1-8.

 

 Adolossensie  is ‘n tyd om te ontdek. Jy raak bewus van vreemde emsosies en sensasies. Jy raak skielik bewus van die grootmens lewe, en jy raak bewus van veranderinge aan jou liggaam.

 Die adolossent is broos en weerloos, en voel skaam oor sy ontluikende seksualiteit. Jy begin seksuele emosies ervaar en verstaan nie of jy so mag voel nie. Jou siening en gevoel oor jouself verander, en hoe jy dit hanteer hang af van die ervarings, waardes en idees wat die basis van jou kinderlewe vorm.

Afhangende van die positiewe en negatiewe ervarings, hoe dit geïnterpreteer is, en ondersteuning wat jy as kind gekry het, bou jy jou totale lewe daarop voort. Indien jy as kind gevoel het jy beteken niks, gaan jy jouself nie toelaat om gesonde vriendskappe te bou nie.

 Die kind wat onaanvaarbaar voel in sy ouerhuis, omgewing, familie en vriende,  begin homself nou sien as onaanvaarbaar vir almal.

Spr.27:19 “ Soos in die water aangesig teenoor aangesig is, so is die hart van die mens teenoor die mens.

 Die tiener sal begin aanvaarding soek deur met ‘n groep wat hy voel hy aanvaar word te assosieer. Om “in” te wees, begin die jongmens te eksperimenteer met alkohol, seks en dwelms. Jy begin glo dat die lewe nooit weer sal beter raak nie, en jy voel jy kan niks doen om dit beter te maak nie. Jy steek jou onbekwaamheid en onaanvaarbaarheid weg, en sny jou af van die werklikheid. Jy begin iemand word wat ander graag wil hê jy moet wees, en jy begin jouself sien as iemand anders.

Adolessente wat hulself sien as waardeloos en nikswerd, sien gewoonlik die mense om hulle ook so en reageer op twee verskillende maniere.: Hulle onttrek en tree heeltemal teen hul omgewing se waardes op,  en vind in afsondering ‘n “plaasvervanger” vir die eensaamheid, of hulle beweeg heeltemal teen die norme van die samelewing. Hulle verwerp doelbewus alle reëls en waardes, en steur hul glad nie aan wat hul ouers of die samelewing sê nie.

‘n Jongmens wat gedurigdeur aan die wegkruip is - van God, van homself en van sy medemens  - bou sy lewe op geheimhouding. Hy raak te bang om vir die wêreld te wys hoe hy regtig binne lyk, en is gedurig besig om ‘n front voor te hou.

 As jy sommer aanvaar dat jou binneste lelik en onaanvaarbaar is, gaan jy baie moeite doen om daardie binneste vir die mensdom weg te steek.

So ‘n adolossent raak ‘n alleen mens, afgesonder van homself en sy medemens. Die adolossent se selfbeeld en eiewaarde is nou gebaseer op ‘n hele stelsel van prentjies en gevoelens wat hy omtrent homself saamgestel het, en daarvolgens bou hy sy lewe daarop voort. Die waardes en idees wat hy gevorm het van sy omgewing, huis, en die mense rondom hom, en sy ondervindinge met die buitewêreld, asook alle inligting wat vanaf kind in sy brein gestoor is, het hy nou as reg en normaal aangeleer. Die jongmens teken vir homself ‘n denkbeeldige prentjie soos wat hy dink hy moet wees om aanvaarbaar te wees vir die gemeenskap, en vriendekring, en hy begin hom identifiseer met sy denkbeeldige “self”.

 Spreuke 23:7 “ Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink , se hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie."

Die patroon wat die adolossent aangeleer het, word deel van sy volwasse lewe

 

HOOFSTUK 3  Hoofstuk 1 Hoofstuk 2  Hoofstuk 3  Hoofstuk 4  Hoofstuk 5  Hoofstuk 6

VOLWASSENE

1 Kor 13:11“ Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê.”...OF HET EK ?

Jy is ‘n volwasse jongmens, en wil die lewe aanpak met ywer en toewyding. Jy wil begin werk en jou eie geld verdien, dis tog waarna jy al so lank streef. ‘n Mens kan mos niks doen sonder geld nie, of hoe? Jy is ‘n volwassene met dryfkrag...... as jy genoeg geld bymekaar kry, het jy mos alles wat jou hart begeer. Vriende, ‘n kar, musieksentrum, uitgaan wanneer jy so voel, gaan slaap wanneer jy so voel, en lekker kuier nagte deur. Dis mos die lewe..... Of so dink jy.

Soos jy begin vorder het deur die lewe het jy begin agterkom dat jy nie regtig die dinge van jou “kind” afgelê het nie, want sien; Paulus het eintlik bedoel,  As jy volgens die beginsels en begrippe van die WOORD groot gemaak is in liefde, volgens die volmaakte tegniek, sal jy maklik en sonder moeite die dinge van ‘n kind aflê in die proses na volwassenheid.

Matt.6:23 “ Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie. “

Regdeur jou lewe het jou ouers, familie, onderwysers en maats sekere gevoelens in jou “belê.” Die dag het aangebreek dat jy alles wat in jou belê is, moet begin teruggee as volwassene. Die verskil wat jy as volwassene uitgee, is eweredig aan die verskil wat in jou belê is as kind en adolossent.

Patrone en denkwyses wat jy vir jouself oor die jare opgebou het, aanvaar jy nou as waar. Jy is nou die eindproduk van jare lange programmering.

 Spr.13:12 “ Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is wee van die dood.”

 Die jong volwassene raak bewus van nuwe uitdagings. Hy begin in verhoudings betrokke raak , en wil moontlik later trou en graag deel van ‘n gesin wees.

Die jong volwassene wat nie geloof het in sy eiewaarde en menswaardigheid nie, sal terugdeins vir ‘n verhouding wat toewyding vra. Sommige sal die onstabiliteit wegsteek, trou en ‘n gesin bou, maar omdat die persoon nie emosioneel stabiel is nie, sal die probleem later sy tol eis.

In sy verhouding met sy lewensmaat begin hy soek na kompensasie vir die seer van baie jare, en alles wat hy in sy kindertyd moes ontbeer. Die volwassene het ook as kind geleer om sy verdedigings meganismes te gebruik. Twee van die mees algemene verdedigings meganismes wat gebruik word, is om die skuld vir dinge wat verkeerd loop, op ander te pak, en om fout te vind met alles. So ‘n persoon wil baie graag hê die wêreld moet hom sien as ‘n selfversekerde mens sonder swakhede.

Sommige wat ook nooit as kind gevoel het dat hulle iets beteken nie, raak ook dikwels perfeksionistiese mense in hul poging om al die seer uit te wis en reg te stel. Volwassenes wat onstabiele kinderlewens gehad het, is ook geneig om beskuldigings en verwyte rond te gooi in die hoop dat iets hulle sal laat beter voel.

Volwassenes was die hele tyd probeer om hulself te bewys, leef voortdurend in angs, want hulle is baie bang om “ontmasker” te word. Hierdie mense is altyd gespanne, en is geneig om psigo somatiese siektes soos maagsere te ontwikkel.

Sommige volwassenes gaan sovêr om hulpmiddels te gebruik om hulself beter te laat voel. Alkohol, dwelms en seks word die kruk wat hulle gebruik vir verligting van die eensaamheid.

Vir baie is die onvoorspelbaarheid van die lewe ‘n groot probleem. Woede en bitterheid bly smeul by die ongelukkige persoon wat altyd verwerp voel, en voel dat hy in beheer moet wees om homself te bewys. Hierdie mense se masker is soms so stewig in posisie, dat hul soms hoë en gerespekteerde posisies in die samelewing beklee. Intussen weet niemand dat hulle eintlik ten gronde gaan onder geweldige emosionele pyn, en ontduiking van verantwoordelikheid nie.

Emosies soos woede, bitterheid, hartseer, eensaamheid en emosionele pyn, dwing jou om na antwoorde te soek.

WIE IS EK???

Ag, Heer, wie is ek? Waar het ek vandaan gekom en waarheen is ek op pad? Wat doen ek hier?

Soms, as ek voor ‘n spieël verbystap, skrik ek vir die vreemdeling wat ek sien met my gesig. Wie is hierdie mens wat soos ek lyk ( arme ding ) en met my liggaam rondbeweeg? Sy maak die kombuis aan die kant, sorteer die wasgoed, skreeu op die kinders en het lief, bekommer haar oor - en baklei soms met ‘n man wat skynbaar haar man is.

Jy gaan saans bed toe, staan soggens op, maak kos en eet. Help ander om klaar te maak om werk toe te gaan, en haas dan na haar eie werkplek...........’n plek wat soms neerdrukkend bekend lyk. Of na ‘n kerkfunksie waar sy almal ken, en ook, in werklikheid, niemand nie.

 

Tog is ek en hierdie vrou een en dieselfde mens. Tog verskillend ook - dis asof ek soms wakker word in haar teenwoordigheid en dan roep : “ Haai...jy! Wie is jy en wat maak jy hier!”  En sy kan my maar net met verbasing gadeslaan.

Wie is ek? Wie is ek, Heer?

Ek is tog lewendig - ek moet wees. Kyk, ek kan ‘n hand skud: ek kan sy warmte teen myne voel. Ek lei ‘n vergadering, ek hoor my stem as ek saam met die ander lag. Ek haas na die motor, gesels hier en daar met iemand. Ek snel voort op die snelweg om die kind by sy volgende klas te kry.

Maar soms, in daardie oomblik van bewuswording, word ek getref deur die algehele doelloosheid van dit alles. Watter saak maak dit, Heer? Watter saak maak dit of die wasgoed gesorteer word, die kombuis opgeruim word, en of ek die kerkfunksies bywoon. Watter saak sal dit maak as ek nie by my werk opdaag nie? Sal die gang van die wêreld in die minste geraak word as my seun nie die eerste span haal nie?

Hierdie vrou wat skynbaar al hierdie dinge in my liggaam doen en my naam dra, wat het sy met my te doen? Vergewe my Heer, as dit alles so vervaard klink. Maar ek voel vervaard en soms baie bang. Dit alles gaan so gou verby. Die lewe snel verby, die tyd sleur my mee in sy stroom, en ek weet nie waarheen en waarom nie.

Ek smag daarna om aan iets vas te gryp en daaraan vas te hou om nie heeltemal te verswelg nie. Want dan sal die ware ek ( as daar so ‘n persoon is), nog meer verlore wees as wat sy reeds is.

Ek soek na U, Heer. Strek U hand uit na my - en moenie dat ek teëstribbel nie. Trek my na ‘n plek waar ek ten minste weer my perspektief kan kry. ‘n Plek waar ek rustig met myself die saak kan uitmaak:

 Wie is ek, waarheen is ek op pad - en waarom? (m.holmes)

Mat.23:25-27 ...” want julle maak die buitekant van die beker en skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid......maak eers die binnekant van die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.”   ......” julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook  van buite vir die mense regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.”

 

HOOFSTUK 4  Hoofstuk 1 Hoofstuk 2  Hoofstuk 3  Hoofstuk 4  Hoofstuk 5  Hoofstuk 6

HOE WORD EK GEHELP????

Heb 4 : 16 “ Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Die menslike natuur is nou eenmaal so, dat die meeste mense nie gaan verander tensy hulle nie deur intense pyn of ongemak daartoe gedryf word nie. Die emosies wat deel is van leiding byvoorbeeld woede, bitterheid, hartseer, en vrees, dwing jou om na antwoorde te begin soek. Daar moet ‘n brandende begeerte by jou wees om by die waarheid uit te kom, anders gaan jou situasie nie verander nie.

 

Die eerste tree op pad na herstel, is om te besef dat jy nie alleen instaat is om ‘n einde te maak aan jou idees en gedragspatrone nie. Jy moet erken dat jou hartseer, eensaamheid en pyn vir jou te veel word, en dat jy nie jouself kan help nie. Jy moet op ‘n punt van desperaatheid kom dat jy bereid is om enige iets te doen om net weer gelukkig te kan voel.

Die wete dat jy jou heel laagste punt bereik het, en die wete dat jy in ‘n donker moeras is, en dat jou lewe geheel en al buite beheer is - as jy nie weet wie jy is, of hoe jy voel nie -  Dis wanneer jy op die punt staan van ‘n baie groot wonderwerk. Wanneer jy nie meer kan nie - dan kan God !!!! 

 Gelukkig hoef jy nie die herstelpad alleen te loop nie. God gee jou al die hulp wat jy nodig het, nie net deur Sy eie teenwoordigheid nie, maar ook deur mense wat Hy op jou pad stuur om jou te ondersteun, by te staan en te lei. Jy is op ‘n ontdekkingsreis waarin jy gaan leer om jouself te ontdek.

  

ONTDEK JOUSELF - HOE IS DIT MOONTLIK?????

Joh.12:46 “ Ek het as ‘n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.”

Die heel belangrikste is om te onthou dat God wel bestaan, al voel jy dat jy nie op Hom kan

vertrou of in Hom kan glo nie. Onthou net, Hy bestaan en wil jou help.

Jy sal moet bereid wees om eerlik te wees met jouself en met God, en jy sal teenoor jouself en teenoor God moet erken dat jy hulp nodig het.

 Joh.8:32 “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.

Jy sal ook moet erken dat jy gewoontes en emosies het wat buite beheer raak, en dat jou lewe beheer was deur emosies en gewoontes wat jy vir jouself as waar aangeneem het.

Weet dat die Here jou geroep aangehoor het, en dat Hy nou in beheer is van alles, wees nou bereid om al die las op God te plaas. 

Ps.91:15 “ Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.”

Die herstel proses is nie net ‘n salfie wat oor die seer aangesmeer word nie. Dit behels ‘n proses van intense en baie eerlike self ondersoek. Jy sal bereid moet wees om die rou emosies wat met jou herstel proses gepaard gaan, in die oë te kyk - dit is die noodsaaklikheid om werklik te weet wie jy is, en jouself opnuut te ontdek as die persoon waarop God trots is.

WAAR BEGIN JY?

 Hoe vind mens uit of daar enige negatiewe sienings in jou onderbewuste is?

 Een manier is om terug te dink aan jou vroëe kinderjare, verkieslik voor jy ses jaar oud was. Kyk watter herrinneringe kom by jou op. Die dinge wat jy onthou gaan vir jou ‘n aanduiding gee van hoe jy die lewe geïnterpreteer het. Dit is belangrik om te weet dat jy jou emosies onderdruk het, en ontken het, maar dat hulle nooit weggegaan het nie. Hulle is nooit verwerk nie, en het dus nou al ‘n deel van jou daaglikse bestaan geword.

Hoewel daar duisende herrinneringe in jou onderbewuste opgesluit is, onthou jy gewoonlik die wat vir jou die belangrikste was. Identifiseer die emosie wat by jou opkom, erken die bestaan van die emosie, erken dat die emosie nog by jou teenwoordig is, erken dat die gedagte aan die spesifieke herinnering jou laat sleg voel.........Dit is slegs die begin van jou wonderlike herstel!!! Begin nou om God se genade by jou lewe in te laat. God se genade is ‘n teken dat Hy ons aanvaar ondanks ons swakhede en onvolmaaktheid. Omdat Hy genadig is, mag ons ook foute maak sonder om bang te wees dat Hy ons sal verwerp, of sal ophou om ons lief te hê. Hoewel die dinge wat jou seergemaak het, waarskynlik baie jare in jou verlede lê, het hulle wortel geskied en gegroei. Daarom is dit noodsaaklik om na die heel begin terug te gaan. Ja, dit gaan seer wees en jy gaan waarskynlik weer van voor af met die pyn en hartseer van daardie ervarings gekonfronteer word, maar die proses is ‘n noodsaaklikheid.

Dink terug aan gebeure wat sterk emosies by jou ontlok het, jy mag selfs nou daardie emosies ervaar en ‘n knop op jou maag kry, of dit  mag vir jou voel of jou keel wil toetrek.

Ps 32:3 “ Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer......”

Neem pen en papier, beskryf so volledig as wat dit vir jou moontlik is wat gebeur het, hoe oud jy was, en begin vir die spesifieke persoon skryf wat jou skade aangedoen het. Moet nie haastig wees en probeer om die insident af te rammel nie, dis belangrik dat jy die insident vir jouself baie deeglik beskryf. Skryf elke emosie neer wat jy ervaar, hoe kras dit ookal vir jou mag klink. Alle aggressie wat jy deur die jare onderdruk het, alle bitterheid wat jy vir jare weggesteek het, skryf alles presies neer hoe jy dit ervaar.

 Spr.28:13 “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en

laat staan, sal barmhartigheid vind”

 Jy moet weet dat dit nie verkeerd is om die pyn van daardie insident te voel nie, onthou, die pyn en emosies is nog al die jare teenwoordig, jy het dit nog nooit verwerk nie, jy het dit nog altyd weggesteek. Moet nie jou gevoelens en emosies onderdruk nie, kyk die emosies reguit in die oë, en weet dat jy besig is om heeltemal te verander. Weet dat jy nou deel met die seer wat vir jou onhanteerbaar was, en dat dit na die sessie nie weer sal nodig wees om met die emosies te deel nie. Besef hoe diep en pynlik die emosies vir jou was.

Jou liggaam sal moontlik ook reageer op die emosie wat jy nou mee deel, jy mag moontlik bewerig raak, huilerig voel, of aggressief voel. Onthou dat jou liggaam baie jare die emosie moes dra, en dat jou liggaam ook nodig het om van die emosie ontslae te raak en te ontlaai. Gee jouself kans om die emosie te hanteer, gee jou liggaam kans om te ontlaai, en sodra jy die emosie hanteer, kan jy verder gaan met die terapie.

Begin nou op ‘n nuwe manier oor jou seerkry dink. Sien jouself binne in die situasie, sien dat Jesus saam met jou in die situasie is. Sien vir Jesus in jou geestesoog wat jou hand vashou in die situasie, sien hoe Jesus jou wil troos, en luister na Sy gerusstellende woorde.

Maak jou oë toe en laat positiewe woorde insink. Laat positiewe woorde deel word van jou nuwe denkpatroon.

God het ons almal na Sy beeld geskape, en dit is Sy wil dat ons in Sy waarheid en lig sal lewe. Deur opnuut tot die besef te kom van God se genade en van Sy krag, is dit moontlik om tot ‘n nuwe verhouding met God te kom. Laat God se lig toe om in elke hoekie van jou hart skoon te maak. Raak bewus van God se teenwoordigheid en van Sy krag, en stadigaan gaan jy bewus raak van ‘n gevoel van verligting. Jy sal besef dat, hoewel God nie kon keer dat die situasie met jou gebeur het nie, dat Hy wel teenwoordig was en jou pyn ook ervaar het. Begin om die persoon in die situasie te vergewe en vry te spreek. Dit is moontlik dat jy na die oefening moeg sal wees, aangesien jy baie lank aan die swaar las gedra het.

 

 As daar meer as een situasie is wat jy moet hanteer, moet jy nie probeer om alles op een slag te hanteer nie. Spasieer die oefening oor ‘n paar dae, en herhaal elke situasie wat jy kan ophaal in jou onderbewuste soos wat jy die eerste situasie hanteer het.

Gee uiting aan die pyn in jou hart, sien dat die lewe jou onregverdig behandel het, en hou op om aan jouself te dink as ‘n hopelose slagoffer wat niks aan jou situasie kan doen nie. Begin jouself sien as jy en Jesus wat die situasie oorwin het, en begin ‘n positiewe houding aankweek. Sien jouself as iemand wat ‘n swaar situasie hanteer het, en oorwin het, en jy en Jesus was ‘n span, en saam met Jesus is jy meer as ‘n oorwinnaar!

Heb.13:6 “Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?”

Nog ‘n oefening is om te dink aan persone wat jou geweldig seer gemaak het. Skryf aan die persoon ‘n brief - dit is ‘n brief wat jy nooit gaan pos nie - vertel presies hoe jy die situasie ervaar, hoe jy die trauma beleef, beskryf jou angs, jou emosies en pyn aan die persoon. Die persoon moet presies weet hoe jy in die diepste van jou wese gevoel het met die situasie. Jy mag ook aan die persoon skryf dat jy kwaad, vernederd, misbruik, ens. voel en jy mag jou aggressie met die persoon deel. Kry al jou gevoelens uit in die lig.

Efe 5:8 “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here.....

HOOFSTUK 5  Hoofstuk 1 Hoofstuk 2  Hoofstuk 3  Hoofstuk 4  Hoofstuk 5  Hoofstuk 6

DIE GROOT - V

Fil.3:14 “... ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voor is....”

Die moeilikste deel van alles is die groot V - Vergifnis.

Vergifnis is ‘n proses en behels dat jy die beheer vir jou lewensstyl vir die Here God moet teruggee. Vergifnis bevry jou van selfverwyt en skuldgevoellens, en dit beteken dat jy die aanspreeklikheid aanvaar vir jou eie dade. As jy vergewe, sal jy ophou om jouself en ander te veroordeel vir dinge wat in die verlede gebeur het. Jy is dan ook instaat om jou verdraaide waardes, wat op leuens gegrond is, vir die lig van God se waarheid te verruil. Om waarlik te vergewe  moet jy ‘n wilsbesluit neem om afstand te doen van al die bitterheid wat vir soveel jare deel was van jou lewe.

Rom 12 : 2 “ En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed......”

 Vergifnis kan jy nie uit jou eie doen nie, slegs deur die hulp van God se genade. Terwyl jy die ander persoon vergewe, kom jy ook tot nuwe selfaanvaarding en eerlikheid.

Vergifnis is ‘n proses, jy kan dit nie oop en toe draai soos dit jou pas nie. Noem elke persoon se naam op wat in die situasies jou seergemaak het. Besluit hardop of jy die wilsbesluit gaan maak om hulle te vergewe. Onthou: - met die maat wat jy vergewe, sal jy vergewe word.

Vra die Heilige Gees om jou te lei in gebed, noem elke persoon se naam, vergewe en spreek hulle vry, gee hulle oor aan die Groot Regter. Verseker gaan jy nou verlig voel, en vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan.

Fil 4:7 “ En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal  julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus”

Die moeilikste deel van vergifnis is om jouself te vergewe. Jy is so oorbewus van jou emosies en gevoelens, en jou gevoel dat dit wat gebeur het jou straf was, dat jy nie sover kan kom om jouself te vergewe en vry te spreek nie.

Sit voor die spieël en vra hardop vir jouself of jy enige redes het om jouself nie te vergewe nie. Belei hardop dat jou waardes nie van jou optrede afhanklik is nie, en sê vir jouself dat jy jouself aanvaar en vergewe, en dat jy ook God se vergifnis aanvaar. As jy eerlik met jouself en met God was, kan jy jouself vergewe - Herhaal dit vir jouself daagliks. Verseker jouself elke dag dat God aan ons die lewe gee omdat Hy ons graag hier wil hê. Weet ook met volle oortuiging dat God jou nie in die steek gelaat het nie, Hy sal in al jou behoeftes voorsien, en jou weer help om op ander mense te vertrou. Maak daagliks tyd om jouself in ‘n positiewe lig te sien, en maak aanspraak op die gesag wat God aan jou gee.

 

HOOFSTUK 6  Hoofstuk 1 Hoofstuk 2  Hoofstuk 3  Hoofstuk 4  Hoofstuk 5  Hoofstuk 6

 

DIE ANDER EK

Titus 3:3-5 “ Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.

Maar toe die goedertierenheid van God, ons verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het........, maar na Sy barmhartigheid het Hy ons gered.......en die vernuwing deur die Heilige Gees”

 

Jy is nou ‘n nuwe mens. Jy lewe nie meer in die donker hoekies van jou verlede nie, skuldgevoellens en selfverwyt is nie meer jou deel nie, Jy lewe nou in God se lig.

 

Jy kan nou eerlik wees met God en met jouself en die mense om jou. Jy hoef nie meer weg te kruip nie. Jy kan tot ‘n nuwe verhouding met jouself kom, jy leer nou om jouself te aanvaar en lief te hê. In die heel diepste van jou wese weet jy nou dat jy na die beeld van God geskape is, ja natuurlik het jy nog foute, maar jy is nou bewus van jou menslikheid, maar jy weet nou ook jy is kosbaar vir God.

Die wete dat jy spesiaal en kosbaar vir God is, stel jou nou instaat om die gawes en talente wat God aan jou gegee het van nuuts af te ontdek. Nou kan jou beter besluite neem, en beter keuses maak, want jou besluite en keuses is nou gebaseer op eerlikheid.

Dit is nie net belangrik dat jy nou geleer het om jouself te aanvaar en lief te hê nie, jy moet ook nou leer om die ander rondom jou lief te hê, en te leer ken. Jy moet nou ook leer om ander te aanvaar, en lief te hê soos God hulle aanvaar en liefhet.

Om uit situasies uit te bly waar jy nooit gaan seerkry nie, is onmoontlik. Indien jy in ‘n situasie is waar jy agterkom dat ander besig is om jou seer te maak en te verneder, is dit belangrik om die persoon te laat verstaan dat hy besig is om jou as mens af te breek. Dit is belangrik om die regte gesindheid aan te leer - deur sag en liefdevol te wees, stel jy jou saak en daardeur bereik jy baie.

1 Pet2:9 “ Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom,........van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig”

Jy moet weet dat jou waarde as ‘n kind van God nie afhang van wat ander van jou dink of wat hulle van jou sê nie. Ons is belangrik vir God - ongeag wat die wêreld van ons sê. Moet nie toelaat dat mense se kritiek jou menswaardigheid afbreek nie, bevestig voortdurend in jou binneste dat jy wel vir die Here kosbaar is, en dat jou eiewaarde nie afhang van kritiek nie.

Soos met enige ander verhouding, kan daar slegs intimiteit tussen jou en jou hemelse Vader wees as jy gereeld met Hom kommunikeer. Gee jouself kans om met God te praat, wees eerlik oor hoe jy voel, en se vir hom van al jou onsekerheid, jou vrae, en maak Hom die Meester van jou hart! 

 

·               Indien u raad benodig vir u situasie kan u my epos. keerpunt@eject.co.za

Frans & Sariet Nortjé: Gekwalifiseerde Christen beraders en ook stigters van Keerpunt Emosionele genesings in Pretoria en verbonde aan Lewende Woord.

 

  NA BEGIN

 

NA VOORBLAD