Inspirasie
| Emosionele Probleme | Tiener
Depressie | Die Huwelik | Maskers
Emosies | Geestelike Oorlogvoering | Egskeiding
en Kinders | Keerpunt Beraders | Opleiding
en Seminare | Kursus Datums | Kontak
Ons | Omtrent Onsself | Springkastele
Tot
onlangs was jou kind op sy gelukkigste as hy en sy maats die strate vol kan
karjakker op hulle fietse en rolskaatse. Nou
skielik is hy ‘n jong bulletjie, met ‘n onvaste stem, ‘n melkbaard, en te veel selfvertroue – en ‘n dag later ‘n weerlose kind. Jy voel jy kan hom
te lyf gaan as hy dwars raak, en tog, daar diep binne in jou, kry jy hom vreeslik
jammer. Naas
motor ongelukke is tiener selfmoord die grootste oorsaak van tiener sterftes in
Suid Afrika. Baie ouers vra dikwels wat die rede is vir tiener selfmoord.
Tieners
rondom ons is depressief.
Is ons as ouers bevoeg om hulle te verstaan? Weet ons waarna om te kyk vir
depressie? Dit het nodig geword dat ons dieper kyk na ons tieners en hulle buie.
Die
opinie van ‘n bekende kinderarts
Ek
het aan ‘n bekende kinderarts gevra wat dink hy van tieners en tiener
depressie. Hier was sy interressante antwoord.
“Daar
bestaan nie iets soos ‘n tiener nie. Tieners is ‘n demensie in die groei
proses wat onsself geskep het. Sowat honderd jaar gelede het die mense nie eers
geweet wat is 'n tiener nie. Gaan kyk maar in die Bybel. Sien jy daar dat Moses,
Dawid, of een van die ander ooit die tiener stadium beleef het? Nee, hulle was
as kind beskou, en dan as volwassene. Sodra hulle die ouderdom 12 jaar bereik
het, is hulle bevoeg gevind om koning te word. Hulle het selfs op daardie
ouderdom getrou en kinders gehad.”
“In
die Bybel se tyd het kinders van vroeg af verantwoordelikheid gehad.
Ons
het die ouderdom 12 tot 23 geneem, en dit aan ‘n tienerfase gekoppel.”
“Ons
het begin om kinders oorbewus te maak van hulle liggame. Ons wil dit vir die
kinders so gemaklik moontlik maak, en dra alle verantwoordelikheid self. Ek glo
depressie in tieners ontstaan omdat
hulle skielik verantwoordelikheid moet neem, dit is baie swaar vir hulle, en
probeer daarvan weghardloop.”
“
Die tendens van tieners en tienerdepressie is deur ons vervolmaak, die hele
gemors is eintlik ons skuld.”
NOG
NAT AGTER DIE ORE?
Wanneer
is ons nie meer kinders nie? Wanneer is dan nou volwasse? Tieners vra dikwels
hierdie vrae omdat hulle vasgevang voel tussen die wêreld van die kind en
grootmens. Die grense tussen hierdie twee wêrelde is nie duidelik afgebaken
nie. Die kern van adolosensie is die oorgang van die kinderjare na die
volwassenheid. Maar wanneer
begin dit?
Puberteit
begin gewoonlik vanaf die ouderdom 11 jaar en 13 jaar. Seuns bereik puberteit
ongeveer twee jaar later as dogters. Hierdie oorgang van kind na volwassene,
bring groot veranderinge mee in elke aspek van die kind se lewe. Hierdie
verandering is liggaamlik, op die tiener se intellektuele vlak en op sosiale
vlak. Vir die tiener is tienerjare ‘n geweldige emosionele tydperk. Die kind
voel of hy nêrens kan inpas nie. Hy voel nóg volwasse, nóg kind. Die ou gevoelens
van sekuriteit en stabiliteit, wat hy nog altyd ervaar het, word
skielik, oornag, weggevee.
Die
pituïtêre klier is die “tydbom” binne in die kind. Skielik, wanneer die tyd
reg is stimuleer die klier groei in die kind, en die kind ervaar merkwaardige
veranderinge in elke opsig wat vinnig en onvoorspelbaar is. Klier afskeiding en
emosies is gaan nou hand aan hand. Enige klier wanbalans waaraan die tiener se
liggaam nie gewoond is aan nie, veroorsaak erge emosionele onstabiliteit in die
jongmens.
Die
skielike hormoon veranderinge in die kind, veroorsaak dat die kind baie skielik
sterk teenstrydige emosies ervaar. Die een oomblik het hy intens lief, maar die
volgende oomblik kan hy net so intens haat. Sy emosies swaai sterk tussen die
gevoel van skielike opwinding en erge teneergedruktheid. Hy wil graag
onafhanklik wees, maar hy wil ook in dieselfde tyd ouerlike beskerming geniet.
Hierdie vreeslike deurmekaar emosionele wanbalans versteur die jongmens se
gevoel van waarde.
Innerlik
is die jongmens onseker van homself, onseker van wie hy regtig is, en wat hy wil
wees, en hy wonder watter indruk hy maak op ander mense. Hy wonder of ander
mense van hom kan hou, want hy hou dan nie eers van homself nie. Hy wonder ook
of hy instaat sal wees om sy eie besluite te kan maak. Die oplossing van hierdie
vrae help die jongmens om sy eie identiteit te kan verkry.
Wanneer
die verhouding tussen die jongmens
en sy ouers positief is, help dit die jongmens om sy selfbeeld positief te hou
en stel dit hom instaat om ‘n positiewe identiteit te vorm. ‘n Positiewe
agtergrond van liefde en respek
help ook baie om ‘n positiewe jongmens te vorm.
Adolosensie begin wanneer die kind se liggaam fisiologies begin verander en ooreenkomste begin toon met die volwassene se liggaam. Dramatiese veranderinge vind plaas in feitlik elke deel van die kind se liggaam.
‘N
VREEMDELING IN JOU HUIS
Adolosensie is die tyd waar die kind groei na volwassenheid. Dit begin by puberteit, en strek deur in die laat tienerjare, en vroeë twintiger jare.
Hierdie is die tyd wat die meeste groei ooit plaasvind, en die meeste veranderinge ooit vind nou plaas. Gedurende die tyd verander die jongmens in alle opsigte. Die tiener verander liggaamlik, seksueel, intellektueel en sosiaal, en hulle beweeg weg van die ouers se afhanklikheid en beskerming.
In die wêreld van die tiener voel die lewe vir hom vreeslik deurmekaar en alles verander so vinnig dat hy dit self moeilik vind om aan te pas. Die tiener gaan deur baie veranderinge en hy moet probeer byhou en aanpas by ‘n fisiese verandering, waarvan hy nog net in boeke gelees het. Skielik vind die tiener dit baie moeilik om by die sosiale lewe aan te pas, en moet nou self begin besluite neem vir sy toekoms.
Adolosensie
word in drie fases verdeel
1.
Vroeë
Adolosensie
Die adolosensie tydperk is die moeilikste deel van die grootword proses.
Emosioneel ervaar die kind hoër hoogtes en laer laagtes as die gewone volwassene. Die kind is nou in ‘n proses waar hy voel dat hy by niemand inpas nie. Tienerjare is ‘n klomp teenstrydighede, vasgevang in ‘n liggaam wat van dag tot dag, van kop tot tone aan die verander is.

Hierdie stadium kom sommer oornag in ‘n ongewone snelrat, en skielik ervaar die kind vreemde gevoelens van angstigheid, genot en verwondering. Daar is ‘n skielike toename in groei, veral in die kind se ledemate. Dit veroorsaak dat die kind onhandig, en lomp is. Die kind se arms en bene lyk ook sommer vir homself buitengewoon langer as dié van sy maats. Die voorkoms van die kind se liggaam verander baie drasties en baie skielik.
Vir
dogters is die ontwikkeling van die borste, en die heupe wat verbreed, die
eerste tekens dat sy nou skielik begin groot word. Die tepels sal eers prominent
word, waarna die borsweefsel geleidelik vergroot. Ongeveer van die ouderdom
11jaar tot 13jaar begin die dogter soms tranerig voel, sonder dat sy regtig weet
hoekom sy hartseer voel. Sy begin ook na iemand verlang wat sy nog nie ken nie,
en sal ure spandeer om musiek te luister wat trane sal laat vloei, maar kan ook
net so vinnig ‘n woedebui gooi oor die onbenulligste.
Die dogter begin nou skaam kry vir die hare onder haar arms, en begin ook sien dat haar beenhare skielik verdonker. Dit is die tydperk waar die kind graag wil begin om die oortollige hare af te skeer, en sy sal begin eksperimenteer met grimering. Sy sal ook skielik opmerk dat daar hare op haar pubis groei, en baie skaam begin voel oor die veranderinge. In die tydperk begin die dogter vir die eerste keer menstrueer. Sy begin skielik langer word, en toon ‘n gewigstoename.
Teen die ouderdom 15 jaar tot 16 jaar het die gemiddelde meisie ongeveer 98 % van haar lengte as volwassene bereik. Saam met die snelle groei, vind daar nog baie fisiese veranderings plaas bv. die voete vergroot, die neus wil baie prominent voorkom, en puisies kan op die gesig en rug voorkom. Die dogter is nou op ‘n stadium dat sy graag mooi wil lyk, en begin haar vergelyk met haar maats. Sy is ook nou op die stadium dat sy baie belangstel in die mode, en wil graag aantrek soos die modelle op TV en hunker om soos hulle te wees.
Die
eerste tekens van puberteit by seuns gaan gepaar met die versnelling in die
groeitempo van hulle geslagsorgane, wat hulle baie skaam laat voel. ‘n
Algehele groei vind feitlik oornag in die kind plaas, sodoende dat hy vir
homself vreemd lyk. Gedurende die
tydperk, wanneer die manlike hormoon, testosteroon, afgeskei word, breek die
seun se stem, begin hy baard kry, en begin hare op sy skaamdele groei.
Die jongman se skouers verbreed, en sy spiere ontwikkel groter. In die tydperk word sy stem dieper, sy seks organe vergroot, en die afskeiding van die seksuele hormone verhoog. Die skrotum en testes verander eerste. Hulle word aansienlik groter, en kry ‘n rooierige kleur, daarna vergroot die penis. Skaamhare begin verdonker en kom net op die skrotum en pubis voor. Die penis kry nie skaamhare nie. In die jongman se gedagtes begin hy nou wonder op hy abnormaal is.
In
die tyd wat die pubis hare verdonker en vermeerder, begin die vel se porieë
vergroot, en die vel se klier aktiwiteit versnel. Aknee vorm op die jongmens se
gesig, en hare begin groei en vermeerder op die seun se gesig en liggaam. Hare
kom donkerder en meer voor in seuns as gevolg van die verhoging in die manlike
hormoon (Testosteroon) afskeiding.
Hierdie
veranderinge veroorsaak dat die jongmens ‘n baie stresvolle tydperk beleef.
Daar
is tye wat hulle ongemaklik, selfbewus, en ontevrede met hulle fisiese voorkoms
is. Die jongeling ervaar ook nou erge vrees dat hy fisies sal anders lyk as sy
maats, en dat hy deur hulle verstoot sal word. Hy is nou oorgevoelig wat sy
fisiese voorkoms aanbetref, en sukkel om voor sy maats in die aantrek kamer uit
te trek omdat hy bang is vir bespotting en verwerping.
Hoewel
die jongeling tekens begin toon van die volwassene, voel die jongmens nog baie
kind in sy binnekant. Hulle bestee soms ure voor die spieël om aan die nuwe
voorkoms gewoond te raak, en om aan te pas by die nuwe voorkoms.
Indien
die jongmens nie die geleentheid gehad het om sy eie kamer te hê nie, het die
jongeling nou ‘n brandende begeerte om ‘n eie kamer te hê, en bring ure
alleen in sy kamer deur. Hy raak nou baie maklik selfbewus en verveeld. Die
verhouding wat die jongmens met sy ouers gehad het, en nog steeds het, is op die
stadium die belangrikste invloed vir hom.
Dogters
voel ongemaklik omdat hulle vir die eerste keer sanitêre doekies moet gebruik,
en seuns kry ereksies op die mees ongeleë tye, en kan hulle uiters verleë laat
voel. Die verandering wat in die jongmens se denke plaasvind, en kritiek wat hy
teenoor homself uitspreek, het tot gevolg dat die jongmens in sy ouers se
waardesisteem begin twyfel. Hy begin afhanklik raak van sy maats vir
ondersteuning en waardering, en neig om meer na die vriende oor te val as dit
vir hom lyk of sy ouers hom nie verstaan of waardeer nie.
2.
Mid.
Adolosensie
Hierdie tyd van die jongmens het minder fisiese veranderinge. Hierdie stadium word meer gekenmerk deur emosionele veranderinge. Die jongmens moet nou begin aanpas by sy nuwe voorkoms, identiteit en liggaam. Hierdie is vir die jongmens die tyd van seksuele rypwording.
Hierdie stadium gaan gewoonlik gepaard met gemengde gevoelens soos opgewondenheid, bangheid, benoudheid, plesier, pyn, liefde en haat. Seksuele gedrag kry nou skielik nuwe betekenis vir die jongmens, en hy begin nou intens belangstel in alles wat net na seks kan lyk. Enige inligting waarop hy sy hande kan sit word tot in die fynste besonderhede gelees en bestudeer. Die jongmens sal nou begin eksperimenteer met seks, hulle begin ook eksperimenteer met masturbasie. Seksuele drange is nou baie meer intens, veral in die seuns, en hulle vind dit moeilik om die drange te beheer, veral onder die vriende se invloed. Dit is in die stadium van eksperimentering dat dit kan gebeur dat jonger susters of niggies die proefkonyn kan word vir molestasie.
Dit is in die stadium wat die jongmens begin dink dat daar nie so iets bestaan as selfbeheersing nie. Selfbeheersing is vir die jongmens nou amper onmoontlik, en die gevolg is dat daar begin word met intense seksuele eksperimentering.
Vriende wat vir die jongmens belangrik was in die voor adolosensie fase, is nou baie meer belangrik vir hom.
Die
jongmens probeer nou sy bes om weg te breek en uit die invloed van sy ouers te
kom. Hy probeer ook al wat hy kan om weg te kom van hulle waardes en hulle
beheer. Die jongmens sal nou gedurig die ouers se standaarde kritiseer. Hy het
ook geen behoefte om saam met sy ouers kerk toe te gaan, op vakansie te gaan, of
inkopies te gaan doen nie die . Hy vinnig skaam vir sy “oudtydse” ouers, en
wil nie graag saam met hulle gesien word nie.
Op
die stadium is daar baie konflik tussen die ouer en die jongmens. Die jongmens
sien die ouers as ouderwets, en irriterend, maar sy ouers is darem nog goed
genoeg om hom te voorsien van geld, vervoer en ‘n blyplek (afhangende van
wanneer hy besluit om snags huis toe te kom)
Die
jongmens sal nie juis baie moeite doen in die stadium om met sy ouers te
kommunikeer nie, maar sal liewer feitlik die hele dag in sy kamer deurbring,
musiek luister en dagdroom. Sy ouers kan ook net met verbasing luister hoe hy
ure op die foon kan kuier wanneer sy vriende bel.
Die
jongmens wil nou baie graag hê dat almal sy gedrag moet goedkeur, en
hy sal nou alles doen om deur sy vriende aanvaar te word as deel van die groep.
Skielik begin sy gewone taal verander na tiener taal. Helde, musiek,
klerestyl, en vermaaklikheid verander ook stelselmatig van die ouers se smaak na
tienerstyl.
Verhoudings
met die teenoorgestelde geslag begin ook nou ernstiger raak, en indien die
verhouding sou opbreek, is dit vir die jongmens ‘n baie pynlike ervaring. In
die tyd is daar drie dinge wat vir die tiener uiters belangrik is:
1.seks
2.dwelms
3.motors
Elkeen
van hierdie verwys na invloede van die vriende, die fisiese verandering in die
jongmens, onsekerheid, en sy soeke na ‘n identiteit.
Die
behoefte aan liefde en aanvaarding, die invloed van die seksuele hormone, die
seksuele openheid in die wêreld, en die maklikheid om privaatheid te kry, maak
seksuele eksperimentering baie maklik vir die jongmens.
Vir
die jongmens wat opsoek is na die meer as gewone, is dwelms en alkohol meer as
volop.
Die
tiener begin ook nou die nag as sy avontuurtyd beleef. Snags sal hulle met
motorfietse of motors in die strate rondjaag, omdat hy die gevoel het dat hy nou
vry is en in beheer is van alles. Die tiener begin nou lewe kry as die son onder
gaan, en hou aan met “lewe” tot die son opkom. Daarna sal hy sy dag om
slaap, om krag te kry vir die aand wat voorlê.
Tog
is dit net ‘n manier waarop die tiener sy gevoel van verwerping kan verlig,
dit verander nie veel aan die angstigheid wat diep in sy gemoed aan die gang is
nie. Diep binne is daar erge woeling om die regte beroep te kies, die huis te
verlaat, en sy stryd om homself van sy ouers af te skeur.
3.
Laat Adolosensie
Hierdie
deel begin wanneer die hoërskool dae eindig. Nie meer kind nie, nie meer tiener
nie, begin die jongmens ‘n tyd ervaar waar hy as volwassene in die samelewing
opgeneem moet word. Hy begin nie net al meer soos ‘n volwassene lyk nie, maar
begin ook soos ‘n volwassene dink. Wanneer die adolosent met ‘n probleem
sit, ontleed hy dit eers, en probeer daarna ‘n strategie uitwerk om die
probleem op te los.
Die
adolosent begin ook nou al meer belangstel in die gemeenskap as ‘n geheel. Die
jongmens dink nou nie net oor sy eie denke nie, maar ook oor die denke van ander
persone. Hy vind dit moeilik om te onderskei tussen sy eie denke, en dit wat
ander persone van hom dink. Hy dink dat dit wat vir hom belangrik is, vir ander
ook gaan belangrik wees.
Hy
bestee baie van sy tyd aan sy voorkoms, en dink dat sy voorkoms vir ander net so
belangrik is. Hy is permanent behep met homself, en voel dat andere ook so oor
hom voel, en dat hy altyd onder ‘n vergrootglas is. Hy formuleer sy eie reëls,
en dis al wat geld.
Hy
moet volwasse verantwoordelikheid neem, na ‘n onafhanklike status beweeg, en
sy lewensstyl begin formuleer. Hierdie jongmens moet nou vir die toekoms begin
beplan, moontlike verdere studies oorweeg, ‘n keuse maak vir die regte maat,
en in ‘n onbekende beroep inbeweeg. In die tyd is die jongmens nog meer
onverstaanbaar as voorheen.
Hy
loop aanhoudend met vrae soos “wie is ek.” Vroeër kon hy geïdentifiseer met
sy ouers, toe met sy maats. Nou sukkel hy om sy eie uniekheid te sien, en moet
hy begin om sy eie waardes aan te kweek. Vir die meeste is dit ‘n baie
angsvolle tyd. ‘n Tyd waarop hulle opsoek is na hulself.
Hulle
is ook geneig op paniek bevange te raak wanneer hulle dink hoe hulle oor die weg
gaan kom met die ander persone. Hierdie jongmens leer nou om by die samelewing
in te pas, en meer afhanklik te wees van homself. Tiener verhoudinge, konflikte
met die gereg, bende houdings, seksuele invloede en verhouding met sy beste
vriende kan ‘n groot invloed hê op die manier waarop die jongmens gaan aanpas
by die samelewing.
Die
jongmens voel ook baie dat hy nie by sy samelewing kan inpas nie, en voel baie
keer gefrustreerd. Entoesiasme oor ‘n nuwe beroep kan dalk die jongmens die
verkeerde besluit laat neem oor ‘n tipe beroep wat hy wil volg, wat vir baie
lank vir die jongmens ‘n probleem kan skep.
Adolosente
is uitermatig fyn ingestel vir invloede van buite. As ouers eers begin soek na
die slegte en die ergste in hulle tiener, gaan hulle die ergste sien. Hierdeur
gaan jy as ouer jou tiener aanmoedig om gedrag te openbaar wat jy nog altyd net
voor gevrees het.
Moontlike oorsake van probleme in adolosensie
1.
Die tiener se fisiese voorkoms pla
Die vinnige groei, vel probleme, oortollige vet, periodes van
min energie, verandering in die liggaamsbou, verandering in die liggaamshare en
die verandering in die stemtoon het ‘n erge invloed op die kind. Op die tyd
wat dit vir die belangrikste is om op sy mooiste te wees, kan die tiener se
fisiese voorkoms hom erg neerslagtig laat voel.
2.
Seksuele veranderinge is vir die tiener
vreemd
Die
tiener verwag wel seksuele veranderinge, maar dit is vir hulle nogtans ‘n bron
van angstigheid. Skielik begin die geslagsdele van die tiener groei, en omdat
die tiener vir homself ‘n bedreiging is, kan skuldgevoellens probleme
veraarsaak. Die oningeligde tiener kan ook die hele tyd onder of hy normaal is.
3.
Verhoudings en kommunikasie tussen ouers en maats
Wanneer
daar nie volwasse leiding gegee word aan die tiener nie, en hy aan homself
oorgelaat word om die volwasse wêreld te betree, is die jongmens geneig om
uiters aggressief, verward en angstig te word.
4.
Tieners verander hulle morele standaarde
Die
kinders kom op ‘n stadium waar hulle die ouers se morele waardes bevraagteken,
Dit kan erge konfrontasies veroorsaak wanneer die kind besluit om sy eie waarde
sisteem te ontwikkel wat heeltemal van die ouers verskil.
5.
Tieners wil onafhanklik wees
Wat
die jong mense wil hê, en wat hulle op die tydstip kan hanteer, wissel
gewoonlik. Dit gaan gewoonlik gepaard met erge frustrasies en rebellie teenoor
die ouers. Die jongmens wil gewoonlik laat uitbly, sy eie gang gaan, en
konsidereer nie juis persone rondom hom nie, terwyl ouers moontlik dink hulle
weet wat die beste vir hom is op die tydstip.
6.
Tieners se selfwaarde verlaag
Tieners
voel gewoonlik nie baie goed oor hulle self nie. Hulle wil baie graag aantreklik
wees vir die teenoorgestelde geslag, en wanneer dit vir ‘n tydperk vir hulle
voel dat dit onbereikbaar is, kan daar emosionele probleme by die tiener
ontstaan. Wanneer die aknee op hulle beste lyk, en die neus op sy grootste is,
kan die tiener op sy heel neerslagtigste wees.
7.
Tieners is bekommerd oor hulle toekoms
Tieners
se keuses oor die toekoms, tipe vakke, en tipe beroepe, kan veroorsaak dat die
verkeerde keuse ‘n lewenslange invloed op hom kan hê.

Hoewel
die meeste tieners tog goed aanpas in die volwasse lewe, gebeur dit tog dat daar
tog sommige tieners is wat baie sukkel om in die volwasse lewe in te skakel. Die
tiener sal ook homself bekommer of die beroep wat hy gekies het hom gelukkig sal
hou, en of daar werksgeleenthede vir hom sal wees.
Tydens
die baba jare, ontvang die klein mensie sy liefde in die intieme moeder – kind
verhouding. Gedurende die laerskool jare begin hy liefde, aanvaarding en
sekuriteit soek by gelykes van sy eie geslag. In die vroëe tiener jare vind hy
sy liefde en inspirasie by ‘n ouer man of vrou – gewoonlik sy ouers.
Gedurende die latere tiener jare soek hy liefde by ‘n lid van die
teenoorgestelde geslag.
Dit
kan gebeur dat die ouer moedswillig, of onbewustelik, nie aan die kind se
behoeftes voorsien nie. Die kind word weerhou van liefde wat hom toekom, of die
kind ervaar dat hy nie liefde, bewondering en koestering van sy ouers af kry
waarna hy smag nie. Dit kan dit die begin wees van probleme.
Kinders
wat vroeg geskei is van hulle ouers, en in ‘n inrigting of tehuis geplaas is,
kan van vroeg af ‘n tipe neerslagtigheid ervaar.
Kindertyd
ervarings kan lei tot neerslagtigheid, wat vroeg in die kind se lewe kan posvat.
Navorsing
het bewys dat kinders wat uit spesifieke tipe huisgesinne uitkom, meer neig na
tiener depressie en selfmoord.
Diskordante
gesinne
In
die tipe gesin verkry een of albei ouers nie bevredinging uit hulle huwelik nie.
Hulle wys hulle ontevredenheid deur gedurig te sanik, mekaar en die kinders te
verkleineer, en afbrekende kritiek op alles te lewer. Kinders uit hierdie tipe
gesin neig al van ‘n vroeë ouderdom af om tekens van neerslagtigheid te toon.

In
hierdie tipe gesin sal een of albei ouers uiters eksentriek optree, of hulle
tree op ‘n abnormale wyse op dat daar gedurigdeur spanning en emosionele onrus
in die huis is. In die huis is die ouers so besig om vreemd op te tree dat hulle
nie tyd het om hulle kind die regte leiding en liefde te gee nie. Hierdie
kinders uit hierdie tipe gesin ervaar van baie vroeg af die vreemde atmosfeer,
en neig vroeg tot emosionele
neerslagtigheid.
Ontwrigte gesinne
In
‘n gesin waar daar egskeiding of dood van ‘n geliefde voorgekom het, kan die
kinders neerslagtigheid toon.
Hierdie
tipe gesin vind dit baie moeilik om die gewone normale alledaagse probleme te
hanteer. Hierdie gesin is altyd op soek na raad, hulp en bystand van buite.
Kinders uit hierdie tipe gesin voel onveilig en sekuriteitsloos.
Die
ouers van hierdie gesin is gewoonlik betrokke met botsings met die gereg. Die
ouers aanvaar nie die normale waardes en standaarde van die samelewing nie.
Kinders wat uit die huise kom, is gewoonlik verward, angsbevange en neerslagtig.
Ander
faktore wat ook tot neerslagtigheid in kinders en tieners kan aanleiding gee is:
1.
Agtergrond
en familie
A.
Ouers wat hulle kinders blatant of subtiel verwerp is geneig tot
neerslagtigheid.
B.
Ouers wat baie status bewus is stel gewoonlik onrealistiese hoë
standaarde en eise aan hulle kinders. Die eise en standaarde is onmoontlik vir
die kinders om uit te voer. Wanneer standaarde te hoog is, of ouers te rigied is, is mislukking onafwendbaar, en die gevolg is neerslagtigheid.
C.
Tieners wat in konflik is met hulle ouers voel baie vinnig onaanvaarbaar.
D.
Studente wat skaam is vir hulle ouers en familie neig ook om neerslagtig
te wees.
E.
Kinders uit onstabiele ouerhuise.
2.
Hulpeloosheid
Neerslagtigheid
kom dikwels voor wanneer ons in ‘n situasie is waaroor ons min of feitlik geen
beheer het nie. Enige persoon kan neerslagtig word wanneer hy voel dat alles wat
hy doen onsuksesvol is.
Die
hulpelose gevoel wat ‘n kind beleef wanneer hy ervaar dat sy geliefde ouers
nie in hom belangstel nie, is oorweldigend vir die kind. Die kind ervaar ‘n
erge tipe magtelose hartseer in hulle wese. Hierdie kinders is gewoonlik
apaties, sieklik, en negatief, en ervaar intense depressie in hulle latere jare.
Kinders
wat gemolesteer word, ervaar ook ‘n magtelose gevoel wat moontlik
neerslagtigheid tot gevolg kan hê in latere jare.
3.
Jou denkproses
Hoe
‘n persoon dink bepaal baie keer hoe ‘n persoon voel. As jy net negatief
dink, sien jy net die donker dinge in die lewe raak. Jy het ‘n negatiewe
siening van jouself, en die toekoms is ook negatief. Alles wat tuis gedoen word
is negatief, en alles wat die kinders probeer word in ‘n negatiewe lig gesien.
Kinders wat in hierdie tipe huis grootword is geneig om van kleins af hulle self
te sien in ‘n negatiewe lig, en sal ook oor alles begin negatief voel.
4.
Aggressie
Kinders
wat nie toegelaat word om hulle mening uit te spreek nie, of wat nooit enige
teken van aggressie mag toon nie hou die aggressie binne in hulle. Die gevolg is
dat die aggressie later uitkom in die vorm van depressie.
TERWILLE
VAN OORLEWING
Ons
as ouers kondisioneer dikwels ons kinders onbewustelik. Ons verwag van hulle
kinders sekere gedrag. As die kinders aan die spesifieke gedrag voldoen is die
kinders aanvaarbaar vir ons as ouers.
‘n
Kind se verhouding en ervaring met die mense om hom begin vanaf geboorte – met
broers, ouers, vriende en grootouers.
Dit
gebeur ongelukkig dat van die kinders nie so gelukkig is om te ervaar dat hulle
geliefd en bemind is nie. Kinders wat trauma beleef soos
aggressiewe
ouers, molestering, fisiese mishandeling, armoede, honger, geraas, vrees,
gevegte, ingehokte toestande, emosionele mishandeling en verwerping is vir die
kind so angswekkend dat dit nie altyd moontlik is om hierdie vreeslike ervarings
in die gesig te staar nie. Die kind verwyder al hierdie pynlike ervarings uit
die bewuste en stoor dit in die onderbewuste. Die onderbewuste slaap nie, en is
voortdurend besig om van die slegte emosies ontslae te raak. Op ‘n baie vroeë
ouderdom begin die kind se liggaam sekere chemiese stof afskei om die kind te
help oorleef.
Seine
wat gevaar aandui, en seine wat met jou behoefte en oorlewing te doen het, word
deur die hipostalmus na die mens se simpatiese senuwee oorgedra.
In
situasies waar die kind enigsens bedreig voel, of waar die kind enige slegte
ervarings beleef, dra die hipotalamus ‘n gevaar boodskap oor na die simpatiese
senuwees.
Die
simpatiese senuwee kom in snelrat, en veroorsaak die uitstorting van adrenalien,
noradrenalien, histamien, dopamien en bloedsuiker in die bloed.
Hierdie
chemiese stowwe wat in die bloed afgeskei word het ‘n spesifieke uitwerking op
elke liggaamsdeel.
Die
hart begin vinniger klop, die bloeddruk verhoog en vet reserwes word vrygestel en
beweeg in die spiere in. Asemhaling word vinniger, pupille word groter,
sweetafskeiding vermeerder en speeksel droog op. Die bloedvloei na die maag
verminder, en die maag begin minder maagsappe afskei. Rooibloedselle word in die
slagare ingepomp om aan die liggaam meer energie te gee. Alle liggaamsprosesse
versnel, behalwe dermlediging.
Die
adrenalien sisteem begin uitgeput raak, en die serotonien in die brein, wat help
om die kind rustig te hou word vinnig uitgeput. Die sisteem
skakel af wanneer die aanvraag oor is. Dit is soos ‘n kalmte na ‘n
storm, behalwe dat die kalmte is ‘n volkome afskakeling. Dit is die liggaam se
manier om rus te eis. Dit skakel jou af van alle belangstelling, en dreineer jou
van energie, sodat jy geforseer is in ‘n periode van herstel.
In
hierdie periode van herstel kan van dae tot weke duur, en die indiwidu ervaar
neerslagtigheid of depressie in die tyd.
Gedurende
die tyd begin die liggaam weer homself te herstel. Die herstel proses is ook
baie afhanklik van die regte tipe kosse wat die kind eet, sodat die serotonien
vlak in die brein kan herstel. Hoe langer die indiwidu se sisteem uitgeput was,
hoe langer gaan dit vir die liggaam neem vir
herstelwerk om plaas te vind.
Baie
kinders is neerslagtig en lei aan depressie sonder dat die ouers daarvan bewus
is. Depressie in babas word gewoonlik gesien as die baba besonder huilerig is.
Kinders
openbaar 3 maniere van depressie:
1.
Fantasie lewe
2.
Deur wat hulle verbaliseer
3.
Hulle gemoedstoestand en gedrag.
Kinders
is geneig om te teken soos hulle voel. Depressiewe of neerslagtige kinders sal
dikwels donker kleure gebruik vir hulle tekeninge, om hulle donker innerlike te weerspieël. Kinders sal die mense in hulle prentjies met trane teken, en die
gesiggies sal hartseer lyk. Kinders teken hulself ook as klein figuurtjies, weg
van hulle gesin af, of alleen in ‘n hoekie. Dit gebeur ook dat hulle hulself
heeltemal uit die prentjie laat.
Kinders
met depressie is geneig om wakker te word van drome, en dan moeilik aan die
slaap te raak. Hulle is ook geneig om te loop of te praat in hulle slaap.
Hierdie
kinders sal ook vinnig sê dat hulle sekere dinge nie kan doen nie, of dat hulle
niks reg kan doen nie.
Jonger
kinders met depressie is gewoonlik baie skaam en teruggetrokke.
Kinders van alle ouderdomme wat neerslagtig is, is gewoonlik oor sensitief, pessimisties, en is geneig om te oorreageer, en kla maklik en vinnig dat hulle dink mense praat van hulle. Die kinders kom hoogs geiriteerd voor, het aggressiewe uitbarstings en skoolprobleme.
Die
kind sal ook kla van hoofpyn of lyfpyn, en sal moeg lusteloos en traag wees.
Dit
gebeur ook dat die kind wat depressief is ooraktief kan wees, nie wil gaan slaap
nie, en sukkel met konsentrasie. Die kinders kan verkeerdelik as hiperaktief
gediagnoseer word.
In
kinder vanaf 5 – 8 jaar kom depressie gewoonlik uit as skoolvrees.
Tussen
die ouderdom 8 – 11 worstel die kinders met ‘n minderwaardigheidsgevoel, en
na 11 jaar kom skuldgevoellens dikwels na vore.
Tussen
die ouderdom 12 – 16 voel die tiener dat hy nêrens tuis hoort nie. Hy voel nog
volwasse, nog kind.
Tussen
16 – 18 is dit gewoonlik die tyd waar ouer – kind konflik verhoog, en wat
die tiener uiters verward voel.
NET
‘N DONKER DAG
Ons
as normale mense, wat nie altyd kan glo dat daar iets soos neerslagtigheid
bestaan nie, ervaar gewone dae, waarin ons gewoonweg aan ons dagtake werk.
Tog
kry ons, wat onsself “normaal “ beskou ook dae wat ons uiters goed voel, en
is die lewe vir ons ‘n fees.
Daar
min mense wat nie kan saampraat oor neerslagtigheid nie. Daardie gevoel wat jou
beetkry as jy ‘n toets dop waarvoor jy hard geleer het, of wanneer jy ‘n
geliefde verloor, of wanneer jy jou plek in die sportspan moet afstaan.
Nou
kan ons “normale “ mense maar erken dat daar ook dae is wat ons soms
“af” voel. Tye wanneer jy nie lus is vir gesels nie, wanneer jy niks wil
doen nie. Ons noem dit jou “donker” dae ….. Wanneer die swaarmoedigheid
swaar op jou skouers druk. Sulke gevoelens word as normaal beskou.
Somtyds
kan die dae uitstrek tot weke. Wanneer hierdie donker dae aanhou, word dit
depressie genoem.
Dit
beïnvloed persone van alle ouderdomme, insluitende kleuters, maar dit is
huidiglik besig om te vermeerder onder tieners en jongmense.
Tiener
selfmoord is die tweede hoogste rede vir sterftes onder tieners, naas motor
ongelukke. 40% van tieners wat selfmoord pleeg kom uit gelukkige huise, en het
geen probleme met hulle ouers, onderwysers of maats gehad nie.
Adolosensie
is die moeilikste stadium van die grootword proses. Die tieners ervaar erge
hormoon veranderinge, en ervaar hoër hoogtes en laer laagtes as die gewone
volwassene.
Die
jongmens is baie bewus van hulle liggame, en wonder dikwels of hulle normaal is,
veral wat hulle geslagsdele aanbetref. Die geringste pyntjie wat die tiener
beleef, kan vir hom paniekbevange en angstig maak.
Weens
die adolosent se vinnige fisiese groei, is hy lomp en onhandig, en skaam hy
homself as hy teen voorwerpe stamp en onnodig goed laat val. Hy is erg
selfbewus, en vrees dat hy fisies sal anders lyk as sy maats. Die adolosent leef
dag vir dag in vrees dat hy nie aan al die vereistes van sy ouers voldoen nie,
al het hy ‘n gelukkige verhouding met hulle. Dit is vir hom van kardinale
belang dat hulle sy gedrag moet goedkeur, maar tog wil hy graag van hulle
leiding geniet.
Hierdie
ontwikkeling van die kind veroorsaak ook dat hy soms traag is, en sy fisiese
energie uitgeput is. Hy verstaan self nie dat hy altyd so moeg voel nie.
Op
die stadium sal die adolosent enige vorm van lyfstraf vertolk as die verwerping
van sy nuwe fisiese voorkoms.
Omdat
tieners se emosies so vreeslik baie verander van een oomblik na ‘n ander, is
dit vir die ouer baie moeilik om vas te stel of die tiener depressief is, en of
dit sommer net weer ‘n bui is wat die kind beetgepak het.
Dit
maak dit uiters moeilik om depressie werklik te onderskei, aangesien tieners
depressie kan wys op maniere waarop die ouers dit nie kan verwag nie.

DEPRESSIE JAS
Vir
‘n aantal persone is daar nie ‘n verskil tussen normale en abnormale
depressie nie. Tog het navorsing bewys dat daar ‘n hemelsbreë verskil is.
Die
belangrikste kenmerk van depressie is die gevoel van neerslagtigheid. Hierdie
gevoel kan wissel van ‘n ligte gevoel van neerslagtigheid tot ‘n gevoel van
totale hopeloosheid, wanhoop en eensaamheid. By die geval van abnormale
depressie het die tiener ‘n gevoel dat alles verlore is, en dat niemand hulle
meer kan help nie. Hierdie gevoel klaar nie op by aanhoor van goeie nuus, of
goeie geselskap nie.
Gemaskerde
depressie
Sommige
tieners kry dit reg om die gevoel van erge neerslagtigheid vir almal te probeer
verberg.
Die
tiener sal ontken dat hy sleg voel, maar sal baie van die simptome hê van
depressie.
In
die meeste gevalle kruip die depressie agter die tiener se aggressie weg. Die
tiener kan erge woede buie ervaar, of hy laat homself gladnie toe om kwaad te
word nie. Die tiener raak dan sommer kwaad vir homself, en die aggressie verplaas
dan na depressie. Die depressie kom uit op ander maniere soos fisiese simptome, aggressie,
humeur buie, impulsiewe gedrag, drink, gebruik van dwelms,
hiperaktiwiteit, angstigheid, en abnormale gedrag. Die tiener beleef pyn, maar
wys sy pyn op so ‘n manier dat sy ware binnekant nie wys nie.
Tipiese
simptome van depressie waarna
ouers kan oplet is:
1.
Eetversteurings
Die
meeste depressiewe tieners het ‘n swak eetlus, en verloor ook gewig. Aan die
ander kant kan die tiener ook uitermatig baie begin eet en uitermatig baie gewig
aansit.
Sonder
dat die tiener vir enige een vertel dat hy emosioneel nie wel is nie, sal die
tiener oormatig begin eet, of totaal sonder kos bly.
2.
Slaapversteurings
Die
slaappatroon van die tiener sal drasties verander. Die tiener sal twee tot drie
ure voor hulle gewone opstaantyd wakker word, en dit weer baie moeilik vind om
aan die slaap te raak. Hy sal aanhoudend moeg voel, rusteloos wees, geagiteerd voel en opsien na die dag wat voorlê. Die tiener sukkel om snags aan die slaap
te raak, en word baie deur die nag wakker. Die tiener kan die versteurnis
wegsteek deur te maak of hy laat ‘n boek lees, of laat studeer.
Die
teenoorgestelde kan ook voorkom waar die tiener uitermate baie wil slaap. Na die
baie slaap sal hulle nog kla dat hulle nog moeg voel, en nog nie uitgerus is
nie.
3.
Psigomotoriese versteuring
Die
tiener gee die beeld van uiterste moegheid. Hy loop en reageer ook stadig. Daar
is ‘n afname in sy denkproses, wat die ouer in die tiener se spraak kan
waarneem. Die tiener sal lank neem om ‘n vraag te beantwoord, en hy sal stadig
praat asof dit vir hom moeite is.
Die
teenoorgestelde kan ook moontlik wees by die tiener. Die tiener is abnormaal
rusteloos, en kan nie vir ‘n sekond stilsit nie. Hy wring gedurig sy hande
inmekaar, en kla aanhoudend oor alles.
4. Verlies
aan belangstelling en genot
Die
tiener toon geen entoesiasme in die dinge wat voorheen vir hom lekker was nie.
Daar is ook niks wat sy ouers of vriende kan doen om sy belangstelling te
prikkel nie. Die tiener geniet nie meer sy stokperdjies nie, geniet nie meer om
sosiaal te verkeer met sy ouers of sy vriende nie, en daar vind ‘n tipe
verlamming in die kind se wil plaas.
5.
Verlies
aan energie
Verlies
aan belangstelling gaan gewoonlik saam met ‘n skerp daling in die kind se
energie vlak. Die tiener voel dat die kleinste takie vir hom die grootste moeite
is. So sal ‘n tiener wat altyd netjies is, al sy goed op ‘n hoop laat lê en
sy kamer in ‘n warboel laat.
Die
teenoorgestelde is ook geneig om by tieners voor te kom. Die tiener is uitermate
hiperaktief, en is heeltyd besig om besig te lyk.
6.
Tranerigheid
Die
tiener (veral die meisies ) is besonder hipersensitief en sal huilerig wees vir
die geringste wat hulle nie tevrede gestel kan word nie.
Die
tiener dogters is ook geneig om kasette te speel wat hulle “trane trekkers”
noem, en dan ure om huil sonder dat hulle regtig weet waaroor hulle huil.
7.
Lae
eiewaarde en skuldgevoellens
Die
tiener verwyt homself vir allerhande klein dingetjies wat verkeerd kon gegaan
het, en glo dat almal hom ook verwyt. Hy loop oral en soek na bewyse om hierdie
denke van hom te staaf. Hy is altyd verveeld met alles, en gedurig geïrriteerd.
8.
Probleme om te dink en te konsentreer
Die
tiener begin kla dat hy dit moeilik vind om helder te dink, en dat hy probleme
ondervind om te konsentreer. Dit is ook vir hom moeilik om besluite te neem, of
sekere dinge te onthou.
9.
Herhalende gedagtes oor dood en selfmoord.
Die
tiener sal gedurig oor die dood en oor selfmoord top, en sal ook soms sê dat
almal beter af sal wees as hy dood is. Hy sal stellings maak soos “ Die lewe
is die die moeite werd nie”, of “ Ek wonder wat sal hulle doen as ek nie
hier is nie.”
10.
Ongelukkig en oneffektief
Die
tiener sal misrabel voel, en homself kritiseer. Selfs om uit die bed uit te klim
is vir hom baie moeite, en hy steun al hoe meer op sy familie om vir hom dinge
te doen.
Enige
opmerking van die ouers in die verband sal die kind nog meer misrabel laat voel.
11.
Fisiese siekte
Aanhoudende
teneergedruktheid veroorsaak dat die liggaam se immuunsisteem geonderdruk word.
Die tiener is dus meer vatbaar vir siektes, en die liggaam vind dit al moeiliker
om virusse te beveg. Kopsere, maagpyne, lae rugpyn en moegheid kan vir die ouers
‘n aanduiding gee van tiener depressie, veral as dit aanhou en die geneesheer
kan geen definitiewe rede gee vir die skete nie.
12.
Lae selfbeeld en teruggetrokkenheid.
Die
tiener ondervind ‘n baie sterk gevoel om van ander mense af weg te kom.
Sosiale kontak is vir die tiener te veel gevra, en die tiener het geen behoefte
om met iemand te gesels nie.
13.
Selfmoord
Daar
is geen volledige manier om te ontsnap van jou probleme nie, of so dink die
tiener. Dit is ‘n onbewuste uitroep vir hulp, ‘n geleentheid vir wraak, en
om mense wat naby jou is te manipuleer.
ONWAARHEDE OOR DEPRESSIE
1.
Dit is onwaar dat depressie altyd die resultaat is van sonde en ‘n
gebrek aan geloof in God.
2.
Dit is onwaar dat alle depressie die gevolg is van selfbejammering.
3.
Dit is onwaar dat dit verkeerd is vir ‘n Christen om depressief te
word.
4.
Dit is onwaar dat depressiewe gevoelens permanent verwyder kan word deur
geestelike oefeninge.
5.
Dit is onwaar dat geluk ‘n keuse is.
6.
Dit is normaal vir tieners om buierig en nukkerig te wees, hulle het nie
regtig depressie nie.
7.
Enige tiener kan vinnig uit ‘n depressie uitkom as hy regtig wil.
8.
As die tiener gaan praat oor sy depressiewe gemoed, gaan dit vererger.
DIE
DOOD OP JOU DRUMPEL

Baie
ouers slaan nie regtig ag op kinders en tieners wat selfmoord praatjies praat
nie. Baie ouers praat nie oor selfmoord met hulle tieners nie, omdat hulle bang
is dat hulle dalk gedagtes in hulle kinders kan in plant. Geen persoon kan
selfmoord gedagtes binne in ‘n mens plant nie. Die gedagte aan selfmoord het
sy oorsprong diep binne in die mens. Dit is die reaksie op ondraaglike innerlike
pyn.
In
die geval waar ‘n tiener dogter se liefdes verhouding verbreek word, is sy
geneig om emosionele ondersteuning te gaan soek by haar maats. Tiener seuns is
meer geneig om terug te trek, en dit verduidelik die hoë selfmoord syfer onder
seuns.
Dogters
is meer geneig om selfmoord pogings aan te wend, maar seuns is 4 keer meer as
dogters geneig om in die selfmoord poging te slaag.
Nog
‘n rede vir tiener selfmoord is homoseksualisme. Navorsing het bewys dat meer
as 30% van tienerselfmoorde die gevolg is van homoseksualiteit.
Selfmoord
is gewoonlik die klimaks van akute algemene neerslagtigheid. Die tiener se
stemming dui op volslae verdriet, hy is afgetrokke, en vra om verskoning vir
enige iets wat hy reg of verkeerd kon gedoen het.
Die
kind is in ‘n stadium waar hy heeltemal vergeet van al die norme en waardes
wat hy geleer het. Die sukses van selfmoord is dikwels te wyte aan die snelheid
daarvan.
Die risiko van selfmoord
verhoog as die tiener ‘n ouer, vriend of kennis ken wat selfmoord oorweeg of
suksesvol gepleeg het. Hulle kan voel dat hulle liewer hulself wil verenig met
die afgestorwene. Tieners wat dwelms gebruik, of alkohol gebruik, loop ook die
risiko om selfmoord te pleeg, aangesien dwelms en alkohol die tiener soveel meer
depressief kan maak, maar die nodige moed kan gee vir so ‘n daad. Tieners wat
hulle self aanhoudend kritiseer, perfeksionisties is, en bo – gemiddelde
presteerders is, loop ook die gevaar om selfmoord te pleeg, aangesien hulle baie
sukkel om enige teleurstelling te verwerk, en dit sien as ‘n swakheid.
Selfmoord GEDAGTES
Die
tiener voel meestal uiters eensaam. Hy voel hulpeloos, bang, en erg negatief.
Die tiener neem ‘n besluit met sy logiese rede en besluit dat dit nie die
moeite werd is om te lewe nie. Die tiener kom tot ‘n gevolgtrekking dat daar
net geen ander uitweg is nie. Die volgende kan as waarskuwings tekens dien:
Die
tiener begin al sy besittings waaraan hy geheg is weggee, of weggooi. Die tiener
kan baie skielik opgewek word, so asof hy skielik ‘n oplossing vir sy probleme
gekry het.
Die
tiener kan skielik besluit om met almal vrede te maak.
‘n
“Ongeluk” bv. “per ongeluk” gif drink.
Skielike
abnormale verandering in die tiener se gemoedstemming.
Die
tiener kan die indruk skep dat niks hom meer kan pla nie.
Wanopvattings oor selfmoord
1.
Tieners
wat dreig om selfmoord te pleeg, sal dit nooit doen nie – Die meeste mense
dink dat dit meestal die stil tipe persone is, wat nie laat blyk dat hulle
instaat is om selfmoord te pleeg nie, wat so iets doen. Daar is egter bewys dat
tieners wat met sukses selfmoord pleeg, reeds maande vooraf vir die mense rondom
hulle gewaarsku het dat hulle sulke planne het.
2.
Tieners wat selfmoord oorleef het, wou net aandag trek – In 75% van
alle geslaagde selfmoorde, het die tiener al voorheen probeer.
3.
Tieners wat selfmoord pleeg is psigies versteurd – Die meeste tieners
wat selfmoord pleeg was by hulle volle positiewe en in kontak met realiteit.
4.
Sodra die tiener beter voel gaan hy nie selfmoord pleeg nie – Die
meeste tiener selfmoorde vind plaas wanneer die tiener reeds begin beter voel.
Die tiener het 15% groter kans om selfmoord te pleeg as hy begin beter voel.

KRISIS
– HELP ASSEBLIEF
Ouers
verwyt hulself dikwels dat hulle nie die tekens van depressie by hul kinders
raak gesien het nie.
Die
ernstigheid van tiener depressie word nie altyd deur ouers raakgesien nie, nie
omdat hulle nie omgee nie, maar omdat hulle nie weet waarna om op te let nie.
Die tiener se buie word dikwels gesien as net weer ‘n stadium waardeur hulle
gaan.
Sommige
ouers voel dat hierdie probleem of pyn uit hulle midde sal verdwyn as hulle nie
daaroor praat nie. ‘n Krisis bring ouers nie noodwendig nader aan mekaar nie.
Albei ouers is in die krisis gedompel, en albei dra hulle eie pyn op ‘n
afsonderlike manier. Ouers voel ook dat hulle in hulle opvoeding van die kind
gevaal het wanneer depressie in die kind raakgesien word.

Dit
is gewoonlik die ma van die tiener wat professionele hulp soek. Die Pa voel
gewoonlik dat strenger dissipline en dalk ‘n goeie drag slae die kind sal
help om vinnig uit sy bui uit te kom.
Wanneer
ouers agterkom dat hul tiener depressief is, is dit raadsaam om self eers na
hulle eie gevoelens op te let. Is jy negatief, ongeduldig en klaerig? Kinders
is geneig om hul ouers na te boots. As jy die soort ouer is wat negatief
reageer, is jy besig om jou kind ook so te leer. As jy as ouer besef jy is die
grootste invloed, en jy faal, moet jý hulp kry.
Dit
is uiters nodig om na die geheel prentjie te kyk van die krisis waarin die ouers
hulle bevind. Sit stil en dink vir hoe lank jy agterkom dat jou kind vir jou
vreemd optree.
Dit
is baie belangrik dat jy ‘n kenner se hulp inroep wanneer jou kind vreemd
begin optree. Kenners verskil oor die gebruik van tipe medikasie, maar dit mag
nodig wees om met medikasie jou kind te help om die chemiese verandering, wat
voorkom in die brein tydens depressie, te herstel. Die medikasie begin gewoonlik
eers binne twee weke werk, en in die tydperk is dit noodsaaklik om die kind goed
dop te hou.
Die kenner sal heel moontlik kyk of die toestand gesins verwant is. Gesins terapie, en indiwiduele terapie sal moontlik nodig wees.