WAARHEDE EN NAARHEDE VAN DIE HUWELIK

Inspirasie | Emosionele Probleme | Tiener Depressie | Die Huwelik | Maskers Emosies | Geestelike Oorlogvoering | Egskeiding en Kinders | Keerpunt Beraders | Opleiding en Seminare | Kursus Datums | Kontak Ons | Omtrent Onsself | Springkastele

Home

 

 

Deur Sarita Nortjé

HOOFSTUK 1

 HOOFSTUK1  HOOFSTUK2 HOOFSTUK3 HOOFSTUK4 HOOFSTUK5 NA BO

ROEPSTEM........NA ‘N ANDER MAAT.

Tydens die hele verhaal van God se skepping, sien ons telkemale dat God tevrede is met sy handewerk.  As God iets geskep het, het Hy daarna gekyk en dit as goed beklemtoon.  Alles het perfek gefunksioneer, net soos God dit graag wou gehad het.

In Gen 2:7  het die Here God die mens geformeer uit die stof van die aarde, en God het hom sekere opdragte gegee.  God was tevrede met die mens wat Hy gevorm het.

Tog was daar iets wat nie pluis was in God se skeppingswerk nie.  God sien dat iets in die skepping nie goed is nie.  Die mens is alleen, hy kort ‘n maat, ‘n metgesel, iemand om mee te gesels : - ‘n hulp wat by hom pas.

In Gen 2:18 Het die Here God gesien dat dit nie goed was vir die mens om alleen te wees nie, en God sê Hy sal vir die mens ‘n hulp maak wat by hom pas. God begin uit die aarde formeer diere en voëls, en het hul na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sal benoem.  Die mens het met elke dier kennis gemaak, hom benoem, en hulle leer ken, maar in homself het hy nie ‘n helper gekry nie. Van al die aardse wesens wat God gemaak het,  wat die mens leer ken het, kon nie een die eensaamheid in die mens se gemoed stil nie.

Maat soek

In Gen 2:20 het die mens al die diere name gegee, maar die mens het GEEN hulp gevind wat by hom pas nie.

 Dit klink vir ons vreemd as ons lees dat God ‘n hulp wil maak vir die mens wat by hom pas, en dan ‘n klomp diere oor die mens se pad stuur? Sal ‘n mens dalk nou dink die Almagtige Skepper het dalk ‘n bietjie “deurmekaar” geraak?

Gelukkig is God die alwetende, en hoewel dit vir ons mag vreemd klink, het God die perfekte plan uitgewerk. God plant ‘n diepe behoefte in die mens se hart na ‘n maat, ‘n hunkering na ‘n kameraad, en God gee aan die mens ‘n keuse.  Die mens kan enige dier kies om die innerlike onrus in hom te stil, en om sy alleenheid te bevredig.  God laat tot toe dat die mens die dier self benoem, sodat hy tot die naam kan kies van iemand wat sy innerlike kan stil maak.

Die mens, wat self nie die diep verlange binne-in hom verstaan nie, begin soek na iemand om die verlange te stil, iemand om sy eensaamheid meer draaglik te maak.  Hy beweeg tussen die diere, en kan kies wie hy wil, maar terwyl hy tussen die diere beweeg, besef die mens dat hy op soek is na iets baie meer betekenisvol.  Die mens het geweet dat dit waarmee hy nou rondbeweeg, nie die innerlike verlange stilmaak nie.  Die mens soek iets of iemand meer uniek, iets meer betekenisvol, iemand spesiaal.

Binne-in die mens het God ‘n baie spesiale gevoel weggesteek, iets wat jy nie kan deel met ‘n dier nie, ‘n diepe verlange na ‘n spesiale persoon om die diepste van gevoelens mee te deel, en God het geweet dat die mens dit nie sou kry tussen die diere nie.

God - in Sy alwetendheid -  het geweet dat, indien Hy reguit vir die mens ‘n maat maak - ‘n vrou - die mens moontlik altyd sou bly wonder of die dier nie moontlik daardie spesiale plek sou kon vul, en behoeftes beter kon verstaan nie.  Daarom dat God - nadat die mens seker was dat geen dier sy eensaamheid en verlange kon vul nie - vir hom in ‘n diepe slaap laat verval het.

In Gen.2:21 bou God vir die mens ‘n vrou - nie uit stof nie, nie uit die aarde - soos die diere nie -  maar uit sy ribbebeen. Spesiaal bou God vir die mens ‘n maat, uit die beenstruktuur van die mens.   Daarna bring God die vrou self na die mens.

Gen. 2:23  wys vir ons dat die mens dadelik tevrede was, dat hy dadelik die vrou as deel van homself aanvaar het, as deel van sy vlees en been van sy been.

Daar was iemand wat die mens se eensaamheid gestil het, sy emosies saam met hom kon deel.  Die mens het nie meer gesoek na ‘n maat nie.

Natuurlik was dit tyd vir feesvier!              

1Kor.7:2 "...Moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê"

God het  ‘n wonderlike plan gehad.  God het besluit om die mens en sy vrou met ‘n sekere “gom” aan mekaar vas te heg.

 Gen. 2:24 “ daarom sal die man sy vader en moeder verlaat, en sy vrou aankleef."  

God het gesien dat dit beter sal wees om die man en sy vrou aanmekaar “vas te plak” sodat geen mens hulle los kan kry van mekaar nie.

Wanneer mens die dag besluit om te trou, gebeur daar minstens 4 dinge.

Jou binnewêreld

Eerstens gebeur daar iets in jou binnewêreld. Uit al die miljoene mense rondom jou, kies jy vir jou net een maat uit wat jy graag jou lewe mee wil deel. Jou maat is vir jou die perfekte, die een wat jy altyd wou hê. Jy bou drome oor julle huis, en skep vir jouself sekere verwagtings ten opsigte van jou huwelik en jou maat. Die lewe lyk vir jou wonderlik, alles is rooskleurig.

Mondelings tussen julle

Tweedens gebeur daar iets tussen julle. Julle kyk diep in mekaar se oë en maak beloftes aan mekaar. Jy belowe om vir die res van jou lewe by jou maat te staan,  jy sal jou maat beskerm en versorg. Jy verbind jouself eksklusief net aan jou maat. Jy sê op baie maniere vir jou maat dat daar niemand anders in jou lewe is nie, en dat jy nooit weer iemand ander in jou lewe sal toelaat nie. Dit sal net hierdie een maat wees vir jou - vir altyd.

Mark 10:9 "Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie"

In die Hemel

Derdens gebeur daar iets in die hemel. Dit is God se wil dat man en vrou 'n eksklusiewe permanente verhouding aan mekaar verbind moet bly. Jy sluit God by jou belofte in as jy jou verbind aan jou maat, met God as jou getuie.

Mal.2:14 "....omdat die Here getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug.....".

Een word

Mark.10:8 "en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees"

God is so ernstig oor hierdie band wat die maats aanmekaar bind, dat Hy pertinent noem dat 'n man nie eers 'n ander vrou in sy gedagtes mag hê nie.

Mat.5:28 " Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het."

Dit beteken dat niemand op aarde belangriker mag wees as jou huweliksmaat nie.

HOOFSTUK 2            HOOFSTUK1  HOOFSTUK2 HOOFSTUK3 HOOFSTUK4 HOOFSTUK5 NA BO

DIE GROOTSTE GEHEIM

Oor die groot dinge van die lewe praat ons min en moeilik. Ons fluister oor die dood, ons fluister oor die groot dinge van die lewe.

Oor seks praat ons die minste van alles. Ons glo mos dis nie 'n "ordentlike" bedrywigheid nie - seks is mos 'n doen ding, nie 'n praat ding nie!.

Die eerste opdrag wat God aan Adam en Eva gegee het, is "wees vrugbaar en vermeerder."  Voortbestaan is afhanklik van die seksuele daad, of ken jy dalk 'n ander manier?

Seks is die basis van die lewe. Seks is deur God geskep, en daarom sal God vir ons bepaal hoe om dit te gebruik. Seks is nie vuil nie; dit is suiwer, heilig en goed. God het dit ingestel om aan die mens se behoeftes te vervul.

Spr. 5:19 " laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde altyd bedwelmd wees."

God het soveel sorg gedra in die ontwerp van seks, dat Hy bepaal het dat dit binne die huwelik beskerm moet bly. Binne die huwelik word die seksdrang ten volle geniet, daarna bly daar nog vriendskap en verbintenis oor. Seks is die hoof item van die viering van die huwelik.

Seks is die samekoms van twee mense op die intiemste vlak denkbaar. Goeie seks neem so lank as wat dit vir beide partye neem om volkome bevrediging daaruit te kry.

Die fisiese liefde tussen die man en vrou is iets wat tussen hulle twee, en net hulle twee gebeur - en niemand, maar niemand, - het iets daarmee uit te waai nie. Dit is privaat, want in die privaatheid van die huweliksbed gebeur die wonderlikste dinge - waaroor die spreuke digter  wonder.

Seks is gee en neem. Die man gee en neem, en die vrou gee en neem. Om in seks te gee beteken letterlik dat jy jou liggaam oorhandig aan iemand anders, en weer ook sy liggaam ontvang.

Die huwelik word bekragtig met die eenwording. Gemeenskap het 'n onaptytlike woord geword, omgang klink nog erger. Die seksdaad pleeg klink soos 'n misdaad.

Ek gaan dit die liefie daad noem, aangesien dit iets spesiaal is tussen jou en jou liefie.

Dit vereis totale oorgawe aan mekaar, dit vereis oefening en die besliste voorneme om mekaar te behaag, en dit vereis 'n sin vir humor, avontuur en pret.

Dit omsluit alles - van die eerste aanraking tot by die laaste streling na die hoogtepunt.

Vir die vrou is die hoogtepunt van die liefie daad die wyse waarop haar man voortdurend sy liefde aan haar bewys. Die daad self is vir die vrou net 'n klein deel van alles wat dit voorafgegaan het. As die vrou voortdurend ge-liefie word, teerheid, minsaamheid, kommunikasie, begrip en besorgdheid ervaar, sal sy nie kan wag om op die man se toenadering te reageer nie. Hoe meer die vrou geliefd voel deur die dag, hoe makliker sal dit vir die vrou wees om haar liefde vir die man terug te wys, en hom te liefie. Die vonk is daar. Die vuurwerke begin. Jy weet die horison kan kantel as jy nie oppas nie. Hartstog laat hom nie omskryf nie, hy pas nie 'n formule toe nie. Dit wissel van mens tot mens, van uur tot uur. Maar as 'n mens dit eenmaal ervaar het, sal jy nooit weer dieselfde wees nie.  Niemand kan vir die man soveel leer van die liefie daad as sy eie vrou nie.

Hoe wys die man sy liefde? Deur vir haar 'n mooi rok te koop? NEE!  Dit word gewys deur die manier waarop jy met jou maat kommunikeer, jou houding, jou gedrag, jou optrede, jou manier van praat, en jou manier van loop!  Dit beteken om jouself te deel, jy maak jou gedagtes, gevoelens en idees aan haar bekend. Seksualiteit is 'n onafskeidbare element van haar daaglikse bestaan. Vir die man is die seksuele 'n losstaande element.

Die man word seksueel aangeskakel deur dit wat hy sien, of waaraan hy dink. Vir die man is die vrou se liggaam baie mooi. Dit is stimulerend vir die man om na die vrou se liggaam te kyk. Vrouens moet besef dat  jou naakte liggaam vir jou maat mooi is, en dit is belangrik om hom toe te laat om na jou liggaam te kyk. Jy word kwaad as hy op 'n tydskrif na 'n naakte lyf kyk,  terwyl jy self in die donker hoekie van jou kamer uittrek. Dit is definitief nie stimulerend om in die donker hoekie te probeer loer na 'n liggaam wat aan hom behoort nie! Gee hom 'n kans om na jou liggaam te kyk, en sien hoe waardeer hy dit!  As jou man vir jou sê dat jou liggaam vir hom mooi is, moet jou nie met valse kuisheid klee nie. Hierdie is 'n mooi deel van julle verhouding, en as jy dit van hom ontneem,  ontneem jy hom 'n deel van sy plesier.

Wys vir jou man dat jy hom begeer,  bou sy manlikheid.

HOOFSTUK 3                     HOOFSTUK1  HOOFSTUK2 HOOFSTUK3 HOOFSTUK4 HOOFSTUK5 NA BO

TREINSPOOR HUWELIK

Waarom is dit, as ons almal sekuriteit, liefde en intimiteit van 'n lewensmaat soek, dat ons so sukkel daarmee?  Waarom moet ons dan so stoei om ons huwelik te laat werk?

Die meeste huwelike misluk nie net as gevolg van onopgeloste probleme uit jou kindertyd nie, maar as gevolg van teleurgestelde verwagtings.

Daar word baie hoë verwagtings aan die maat gestel - my maat moet meer kan gee as ek nie baie wil gee nie. Hoe harder ek bedags werk, hoe moeër ek saans huis-toe kom, hoe groter is die onus wat ek op die ander een kan plaas om my gelukkig te hou. Sy moet beskikbaar wees, 'n stille hawe, 'n uitgeruste minnares, 'n wonderlike gasvrou met bakke vol kos, 'n goeie ma en 'n goeie geselser. Ek wil nie tuis gebodder wees nie. Maar al gedink wat gebeur as sy ook moet werk, net so moeg by die huis aankom, en dieselfde verwagtings van jou koester? Jou maat se eise, nadat jy klaar voel dat jy nie 'n minuut vir jouself het nie, dreineer jou emosioneel so dat jy voel asof jy kan verdwyn.

Dit gebeur soms dat mense vir mekaar begin moeg word. Sekere gewoontes, maniere en houdings begin mekaar irriteer. Die waarheid is dat hulle mekaar en hulself begin verwaarloos het, en nie op hulle gewoontes en voorkoms gelet het nie.

Mans kla altyd dat hulle nie 'n vrou verstaan nie, en vroue aan die ander kant kla dikwels dat hulle nie hul maats kan begryp nie. Mans voel maklik bedreig deur 'n vrou wat altyd van beter weet. Hy vertolk dikwels voorstelle as kritiek, en staan dit heftig teen. Dit laat die vrou weer voel dat sy versigtig moet wees wat sy vir haar maat sê, dus weerhou sy sekere inligting van hom.

'n Man word groot met die idee dat sy eiewaarde op sy prestasies gebou moet word. Hy moet 'n goeie sportman wees, of 'n goeie grap verteller, of 'n goeie leier. As dit net vir 'n man lyk of die vrou haar man se vermoeë begin bevraagteken, kan sy vergeet om sy samewerking te kry. Dit is ook die rede waarom mans so moeilik sê hulle is jammer.

'n Vrou wil graag hê haar man moet haar die hele dag van sy liefde verseker, terwyl liefdeswoorde die hele dag lank die man laat ongemaklik voel.

Diep in die man se wese is hulle geprogrameer om alle probleme wat dreig om hand uit te ruk, fisies op te los. Mans voel ook dat hulle fisies wil oorwin waar hulle met woorde misluk. Hulle glo goeie seks laat die meeste probleme soos mis voor die son verdwyn. Mans is geneig om huwelikskonflik met seks te probeer oplos.

Mans is ook dikwels aan die kyk vir ander vroue, om vir hulself te bewys dat hulle nog aantreklik is, en dat jonger vrouens hulle nog raaksien. Dit is ook dikwels 'n noodroep van 'n man om meer aandag en bewondering van sy eie vrou te kry.

Ten spyte van die man se fisieke krag en dikwels bruuske houding, is mans verbasend weerloos, en die meeste van hulle het 'n diep gewortelde behoefte aan goedkeuring, gerusstelling, ondersteuning en lofprysing.  Een van die belangrikste plekke waar die man hierdie soort  "vertroostende"  behandeling verwag, is in die bed.

Baie vrouens maak die fout om ander dinge in die huishouding voorkeur te gee bo die man. Ons soek almal na liefde - om dit te gee en om dit te ontvang.

Vroue is geneig om eksosentries te wees. Sy is op andere ingestel en sien die behoeftes van andere raak. Sy gee gevolglik haar eie behoeftes en belange prys om in haar man en kinders se behoeftes te voorsien.

 Mans is daarenteen geneig om meer egosentries te wees. Hy is vir homself belangriker as wat mense vir hom is. Sy selfbeeld word dikwels gevorm deur die manier waarop hy homself teenoor ander stel en met ander kompeteer. As gevolg van die ingesteldheid, staan die man sterker op sy standpunt, en wil hy reg bewys word. Dit veroorsaak dat dit moeiliker is om 'n intieme verhouding te skep en te onderhou. Hy probeer sy eie behoeftes bevredig en kyk sy maat se behoeftes mis. Hy sal ook nie maklik raad of hulp van ander vra nie.

'n Vrou het 'n sterk behoefte aan persoonlike oop verhoudings. Sy wil graag emosioneel naby ander mense ( veral haar man ) wees. Sy raak maklik afhanklik van haar man vir liefde, aanvaarding en goedkeuring. Aan die ander kant beleef sy maklik eensaamheid, hartseer en angs wanneer haar man afsydig teenoor haar staan. Haar grootste vrees is dat haar man hom aan haar sal onttrek of haar sal verlaat.

'n Man verkies om 'n veilige afstand te handhaaf, omdat 'n man net 'n beperkte hoeveelheid nabyheid en intimiteit kan hanteer, en voel hy maklik deur sy maat versmoor. Gevolglik begin die man afstand hou deur sy maat afsydig te behandel.

In die intieme verhouding is die vrou geneig om jaloers te wees wanneer sy dink dat haar man psigies en emosioneel by 'n ander vrou betrokke is. Sy gee uiting aan haar jaloesie deur te huil, te pleit, en te beskuldig.

Die man is weer jaloers wanneer hy dink dat 'n ander man fisiek aan sy vrou aandag gee. Sy jaloesie kom uit as aggressie.

Omdat die vrou op haar man ingestel is, soek sy onbewustelik die goedkeuring van haar man. Wanneer hy haar optrede goedkeur, versterk dit haar gevoel dat hulle aan mekaar behoort, maar wanneer hy haar optrede voortdurend kritiseer, verswak dit nie net haar selfbeeld nie, maar sy beleef ook dat hulle emosioneel van mekaar verwyder is.

'n Man se gevoel word gebou op feite, besluite en idees en dinge wat hy doen. Hy het 'n sterk behoefte om te presteer, en is ingestel op werksverrigting. In sy gejaag na prestasies verloor hy sy voeling met ander dinge soos vriendskap, liefde ens. Dit is vir hom belangrik om die respek en bewondering van ander mense af te dwing deur sy optredes.

Ons verwag dat ons maats ons behoeftes sal verstaan, maar wanneer ons behoeftes op 'n negatiewe manier geïgnoreer word, maak dit baie seer. Ons begin mure om onsself bou om onsself te beskerm.

Hy stel nie meer belang nie - sê hy

Hy kán nie meer nie - weet sy

Maar hoe lank gaan dit aanhou?

Mans is altyd gereed vir seks, of so dink talle vroue.

IMPOTENSIE

Die woord alleen klink sommer na hoofbrekens. Die geleerdes beskryf dit as 'n man se onvermoë om 'n ereksie te kry en dit voldoende te behou vir die liefie-daad. 'n Ereksie is wanneer die bloed in die penis se bloedvate opstoot. Wanneer die bloedvate heeltemal vol is, word die bloed deur die sponsagtige weefsel in die penis geabsorbeer, wat die penis laat styf word.  Die hele komplete meganisme word beheer deur die brein, wat op seks prikkeling reageer. Die grootste seks orgaan is die brein. Baie geleerdes beweer impotensie is iets wat 90% in 'n man se kop gebore word, soos 'n obsessie of neurose.

Probleme by die man kan ook toegeskryf word aan voorhuwelikse geslagslewe, gebrek aan selfvertroue, leemtes in die egtelike verhouding, en houding van sy vrou teenoor seksualiteit.

Dit kan ook 'n teken wees van 'n onderliggende depressie. 'n Man word heeltemal afgesit van 'n vrou wat haar soos sy ma in die bed gedra. 'n Vrou wat sleg ruik, en sleg lyk help 'n man baie vinnig om sy passie te verloor. 'n Vrou wat ernstig en vroom is, of wat haar man onbevoeg laat voel, kan ook vinnig sy passie laat krimp.

'n Vrou wat weier om met haar man seksueel te verkeer, buierig en katterig is, en hom kritiseer as 'n swak minnaar, kan ook vinnig die man se lood uit sy potlood haal.

Spanning kan ook impotensie veroorsaak, aangesien die man aan te veel dinge gelyktydig dink en nie kan afskakel om sy gedagtes op die seksuele te fokus nie.

Impotensise betrek die mees belangrikste orgaan wat die man se manlikheid verteenwoordig. Hierdie toestand kan vir die man uiters vernietigend wees, aangesien dit sy selfwaarde aantas waar die man die meeste kwesbaar is.

'n Man voel hy moet sy manlikheid bewys met elke seksdaad. Kry hy dalk op 'n keer nie 'n ereksie nie, sal hy dit toeskryf aan moegheid en spanning - maar binne in hom skrik hy homself lam, al laat hy niks blyk nie. Kry hy die volgende een of twee keer weer nie 'n ereksie nie, is hy al op die rand van 'n ineenstorting, al laat hy niks blyk nie. Sy selfvertroue, wat seks aanbetref lê aan skerwe.

Impotensie veroorsaak 'n bose kringloop. Die man voel hy het gefaal in die seksuele, dit veroorsaak angs en paniek by hom. Deurdat die man teleurgesteld in homself voel, probeer hy ontvlug deur sy maat onpersoonlik te behandel.

Omtrent die helfte van die mans wat impotensie ervaar het, is jonger as 50 jaar, en hul I. K. is bo die gemiddelde. Impotensie onder die middeljariges word dikwels as die manlike menopouse verwys. Mans wat 'n hoë werksdruk handhaaf is nie so bekommerd oor hulle probleem nie, aangesien hul werk al hul aandag vereis.

Mans wat sukkel met impotensie, moet probeer om die lig aan te skakel. Navorsers beweer dat 'n klein orgaan in die brein 'n anti seks - hormoon afskei. In die donker word meer van die hormoon vrygestel. Navorsers het gevind dat mans wat blind was met puberteit,  54% impotent was op die ouderdom van 30 jaar.

Daar is gevalle waar impotensie 'n liggaamlike oorsaak het, en 'n mediese ondersoek noodsaaklik is. Medikasie soos bloeddruk middels, susmiddels en anti depressante kan ook impotensie veroorsaak.

Die vrou moet onthou dat die man se hormoonvlakke die hoogste is in die oggende. As daar 'n probleem is met die liefie - daad in die aand, kan jy altyd spesiale moeite doen om vir jou man te help in die oggend om hom gelief te laat voel.

 Die vrou moet besef dat sy meestal nie verantwoordelik is vir die man se toestand nie. Sy moet kalm en begrypend wees, want niks maak 'n man meer onseker as onsekerheid  en vrees wat hy by sy vrou opmerk nie.

Dit gaan ook nie vir die vrou help om die toestand te probeer ontrafel nie, dit maak die man net meer gespanne, en hy sal dalk glad nie daaroor wil praat nie, omdat hy verleë voel.

Wees mooi met hom, bly by hom, koester hom,  en siedaar......op 'n dag verrys die moeë feniks weer uit die as!

KOUE VROU

Ek sal stadig,

versigtig,

klein stukkies van myself

vir jou kom wys.

En as jy geduldig

en saggies met my werk,

sal ek die laaie van my hart

vir jou oopmaak.

Dan sal ek

die plekke en mense,

die klanke en smake,

die liefde en frustrasies,

die verwagtings en teleurstellings,

wat daarin weggebêre is

uithaal

en afstof,

dat jy dit mooi kan sien.

Maar jy moet onthou dat dit

stukke van myself is

wat ek so vir jou kom gee.

Sodat jy my kan leer ken.

As jy nie verstaan hoe kosbaar dit vir my is nie,

of

as jy dit sou afskiet

sal ek dit stadig,

en stilweg,

soos gebruikte silwer

of goue juweliersware

toedraai in stukkies satyn

en dit weer

veilig,

en vir altyd toesluit

in die houtlaaie

van my hart.

-skrywer onbekend

 

Die meeste van die probleme waarmee ons in ons huwelik sukkel is as gevolg van ons eie toedoen. Seksualtiteit is vir die vrou 'n onafskeibare element van haar daaglikse bestaan. Vroue reageer op 'n liefdevolle aanraking, tere omhelsing en 'n sagte woord. Die man kan nie soggens vir sy vrou kwaad wees, en saans toegeneentheid van haar verwag nie. Seksueel reageer 'n vrou stadig en kan nie seksueel reageer as sy emosioneel afgestomp voel nie.

'n Vrou word hoofsaaklik aangeskakel deur hoe haar maat haar behandel en wat sy hoor. Sy het nie 'n oombliklike begeerte nie, maar het 'n stadige toename in emosies. Dit verg tyd om haar aan te raak en te streel, liefdeswoorde te fluister en haar te vertroetel. Dus begin seks met jou vrou al die oggend as jy jou oë oopmaak as sy vir jou koffie bring.

Sou geslagsomgang plaasvind sonder dat die man moeite doen om sy vrou te stimuleer, word sy onbevredig en onvervuld gelaat. Na orgasme draai hy om en slaap, en vergeet wat gebeur het, en sy bly alleen in die bed lê en staar na die dak.

Dus kan ons sien dat, indien die man kla dat sy vrou koud en kil is, het hy dalk 'n paar klasse in die liefhê en liefie - daad afdeling nodig.

 Baie mans ontsien die moeite om tyd te spandeer om hulle vroue op te wek, sommige is somer net te lui. 'n Onbevredigende, onvervulde vrou het 'n gebrek aan selfvertroue, en voel vir niks goed genoeg nie, wat nog om vir haar man te vermaak.

Kilheid kan ook sielkundig van aard wees. Die vrou mag 'n verwronge siening van seks hê. Kilheid kan ook emosioneel van aard wees.. Die vrou kan teneergedruk wees, of bekommerd voel. Slegte jeugervarings  bv. molestering en verkragting kan ook kilheid by 'n vrou veroorsaak. Dit is dan noodsaaklik om emosionele genesing te verkry vir 'n vervulde huwelik. Vrees vir swangerskap kan die vrou se seksualiteit ook inhibeer.

Vroue wil nie bemin word deur 'n man met 'n stink asem en natgeswete lyf nie. 'n Man wat net party aande onthou hy het 'n vrou, en dan vir haar lief word, sal enige vrou laat krimp. 'n Man wat oor alles kla en kerm, sommer gou kaal in die bed spring, en vinnig aan die vrou se borste en geslagsdele begin vroetel, sal enige vrou wil laat huil van frustrasie. 'n Man - lam gewerk, en neergeplak voor die TV - , wat skielik in die bed lewe kry terwyl hy fantaseer oor 'n ander vrou by die kantoor, maak van sy vrou 'n vrieskas.   

 'n Man wat nie sy vrou se behoefte raaksien nie, en haar lewe vir haar organiseer, die vrou dwing tot gemeenskap, en klaarmaak voordat dit nog begin het, kan nie sy vrou blameer as sy heeltemal van hom vervreemd raak nie.

Behandel jou vrou soos 'n pragtige roosknop, vertroetel en beskerm haar, en kort voor lank sal jy yswater nodig hê om haar vuur te blus.

HOOFSTUK 4         HOOFSTUK1  HOOFSTUK2 HOOFSTUK3 HOOFSTUK4 HOOFSTUK5 NA BO

GROENER  GRAS

Gen.4:7 "... - die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers."

Maar ai,

ander meisies is tog só mooi!

Niemand, al is hy uitverkore en deur God gesëen, en gebruik, is immuun teen 'n buite egtelike verhouding nie.  Enige een wat voorheen NEE gesê het, kan val. Tog, as jy val, hou jy dit geheim, want min mense is mans genoeg om met die hele sak patats vorendag te kom.

Jes. 5 : 20-21 " Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is"

Die eerste stap na mislukking in 'n mens se lewe is 'n ander vrou of man se bed. Jy word daar en dan uitgevang dat jy nie bevoeg is vir jou taak as huweliksmaat nie.

'n Persoon in 'n skelm verhouding, het nie net 'n "skelmpie" nie, maar is ook 'n skelm. As jy skelm is in jou huwelik, is jy oral 'n skelm - of kry mens net sekere soorte skelms?

NEE  - 'n skelm bly 'n skelm.

As jy jou maat, die een naaste aan jou, met wie jy besluit het om jou lewe mee te deel, bedrieg,  hoekom sou jy dan  nie ander wil bedrieg wat jy glad nie ken nie.?

Dis baie maklik om 'n ander maat seksueel te bevredig, om jou voor te doen as iemand wie jy nie regtig is nie, en jou beste voetjie voor te sit vir jou "skelmpie", maar jy verloor binne sekondes jou waardigheid en integriteit. Hoe dink jy gaan jy jou "skelmpie " vir die res van jou lewe kan bevredig, as jy dit nie eers met een maat kon regkry nie??

Enige vorm van seks buite die huwelik is selfbevrediging.  Eenwording binne die huwelik vind plaas op die geestelike-, liggaamlike- en sielsdimensie.  Buite die huwelik kan jy net in liggaam een word, want in die sielsdimensie het jy tyd nodig,  en in die geesdimensie - vir God.

Buite-egtelike verhoudings is maklik, maar kos 'n baie duur prys. Die vyand weet, as jy ingee by die seksuele begeerte, jou hele lewe inmekaar tuimel. 'n Tragiese opvatting het die lig gesien. Seks beteken liefde, en as jy iemand liefhet, sal jy dit aan die persoon bewys deur seks. Baie mans sal, wanneer hulle 'n dame uitneem, probeer om hulle seksueel te benader - slegs om hulle fisiese behoeftes te bevredig.

Seks slegs vir die plesier daarvan, op enige plek, enige tyd, en met enige iemand is 'n groot verdraaiing van wat God gesê het dit moet wees.

Die media skep die indruk dat 'n vrou glad nie seksuele voorspel nodig het nie. Die man het net nodig om een kyk vir die vrou te gee, en sy is onmiddellik aangeskakel. Slegs met een kyk begin die vrou dan die man se klere van sy lyf afruk, want haar drang raak onuithoudbaar en moet dadelik bevredig word. Sy oorrompel die man, en die geluide hou die diewe meters weg van die gebou af. Dit is mos iets wat elke man na verlang. Die media wys oor die TV aanhoudend seksuele passie en die wilde drange wat die vrou het. Die oningeligde sien dit raak, en begin wonder waarom hy so moet sukkel om sy vrou aangeskakel te kry. Hy begin soek na daardie wonderlike dierlike passie en drange wat so geadverteer word.

Dit raak vir die man 'n mors van tyd om spesiale tyd met sy vrou te spandeer, want hy't behoeftes wat hy moet bevredig. Tog aan die ander kant wys die media hierdie vroue wat seksueel opgewerk word deur net na die man se kraag te kyk, maar aan die een kant wys die media die man wat glad nie sy drang kan beheer nie. Sodra hy aangeval word deur hierdie vrou met die wilde drange, het hy nie meer beheer oor homself nie.

Die media maak seks 'n goedkoop, allesoorheersende drang, en programmeer sekere idees in die mens se kop sodat buitegtelike seks so smaaklik lyk........ Die smaaklikheid word met die grootste passie gewys........maar wie sien die bitter pyn na die passie?

Huweliksontrou veroorsaak onbeskryflike pyn. Jy is ook besig om jou ware probleem te verbloem.  In plaas van om aan jou huwelik te werk, verkies jy 'n ander se kussing.

Spr. 6:32 " Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand, hy wat sy lewe wil verwoes, hy doen so iets"

Huweliksontrou verwoes jouself, want jy is besig om jouself te bedrieg. Jy word jou grootste vyand, want jy is nie wat jy voorgee om te wees nie. Jou hele lewe word 'n leuen, en jy verloor jou selfrespek. Jou liggaam is of in jou diens, of jy is in jou liggaam se diens, en die keuse is joune.

Wanneer jy in jou liggaam se diens is, mag jy dalk 'n geskenk ontvang, 'n lewenslange geskenk, wat altyd by jou bly, om jou te herinner van jou nag van passie. Die geskenk bly joune, maar jy deel hom ook uit aan die ander wat dit graag wil hê, sodat hulle jou weer kan onthou.

Kort voor lank kry jy 'n harde pynlose geswel, wat maklik bloei. Die kliere in jou lieste begin swel, jy kry 'n ligte koors en hoofpyn. Jy draf gou by die dokter in vir 'n pilletjie, en skielik verander jou hele lewe.  SIFILIS - en dit net van 'n bietjie plesier!

Skielik kom jy agter daar begin harde vergroeiings op jou geslagsdele verskyn. Gedink jy's dalk allergies vir die seep? Tot jy hoor dat jy VENERIESE VRATTE het, wat nooit weggaan nie, hulle moet uitgesny word.  En skielik weet almal van jou plesiertjie!!!

Gehoor van die "drop" siekte?  Die man se urine begin brand, sy lieste begin swel, en 'n dik etterige afskeiding vanuit die penis word deel van sy daaglikse lewe. Dit alles binne 48 uur nadat jy met die mooiste meisie seks gehad het.  Sy het dan "niks" makeer nie, want vroue het nie altyd simptome nie. Jy het GONORREE opgetel.

Wat van 'n ou koorsblaartjie op die geslagsorgaan?  Jy kry mos koorsblare op jou lippe van koors. Seksuele "koors" gee ook koorsblare, wat erg pynlik is, rondom en op jou geslagsdele. Jy kan behandeling kry, maar weggaan sal dit nooit. HERPES SEMPLEK 2 word nou deel van jou daaglikse lewe. Dit kom en gaan, en die pyn laat jou nooit toe om jou wonderlike nag van passie te vergeet nie!

Daar is ook so 'n aanhoudende gejeuk tussen jou skaamhare. Gehoor van PUBISLUISE? 'n Klein goggatjie wat tussen jou skaamhare bly, en eiertjies lê tussen jou skaamhare. LET WEL - net tussen jou skaamhare, geen ander hare nie. Jy kan nie die skool blameer nie, want dit word nie oorgedra met 'n vuil borsel nie, NET wanneer jou skaamhare deurmekaar gekrap word deur iemand anders se skaamhare  wat hierdie luise het - klim hulle oor, en hulle maak daar nes....om  te bly. Dit kan nogal vir jou 'n verleentheid veroorsaak wanneer jy by die geneesheer moet ontklee, en oral tussen jou skaamhare krioel duisende luise!!!!! En dit net van 'n ou plesiertjie!!!!

Wat van 'n verkoue wat nie wil oorgaan nie, later 'n hoesie, of long ontsteking. Jy begin gewig verloor, voel moeg en tam, jy kry 'n vel uitslag, en begin sweet in die nag. Alweer griep...of so het jy gedink..... En jy moet hoor dat iemand jare terug probeer het om jou te vermoor!!!! En dit net van 'n plesiertjie - jare terug. Jy kan nie eers meer onthou hoe hy of sy gelyk het nie, maar jy weet ook jy sal nie lank genoeg leef om die persoon te soek nie, want jy't 'n virus opgetel wat besig is om jou liggaam stukkie vir stukkie dood te maak.  Jy"t  H. I. V.

Jy begin nou vir God te vra hoekom Hy jou so straf, en jy maak jou Bybel oop.

Spr. 5: 3-4 " want die lippe van die vreemde vrou drup soos heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie, maar op die end is sy bitter soos wilde als, soos 'n swaard aan weerskante skerp."

Spr. 7:27  " kan iemand vuur in sy skoot dra sonder om sy klere te verbrand?"

Jy kom agter God straf jou nie, jy't nie by die reëls gehou van die huwelikspel nie. Jy moet dus self die verantwoordelikheid dra van jou toestand.

Dalk is jy gelukkig, jy het die goggas vrygespring, maar diep binne jou menswees weet jy jy't gefaal. Dit bly jou geheim, en jaar in en jaar uit leef jy met die wete saam dat jy ontrou was. Spr. 28:13  " Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie;......"

In jou huwelik, die intiemste menseverhouding, bou daar spanning. Jy onttrek emosioneel, verkry afstand en begin by ander aktiwiteite betrokke raak. Julle kry meningsverskille, blameer mekaar, en verkleineer mekaar.

Jou onuitgesproke woede en jou lae dunk van jouself, lei tot verdere skuldgevoellens, en meer gebroke harte. Jy begin al hoe meer dink om sommer 'n einde te maak aan die verhouding, want niemand verstaan jou skielik nie......Jy is stukkend, en so ook die mense rondom jou,,,,,MAAR

Jes. 61:1 "Hy het my gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenis 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis."  

HOOFSTUK 5          HOOFSTUK1  HOOFSTUK2 HOOFSTUK3 HOOFSTUK4 HOOFSTUK5 NA BO

AKSIEPLAN

I can stil remember

when we said our wedding vows

we gave the Lord our hearts and our home.

But lately we've been so busy,

it's changing us somehow

I wonder if that's why we feel alone.

Jesus make a promise

if two of us agree

The father up above hear our prayer.

He is still the healer

of hurting families,

And there is hope

As long as He is there.

Let's begin again

trust in Him and not our feelings,

Let's leave the loneliness behind.

Take my hand and then,

we can find a new beginning.

Let's begin again

While there's stil time   -ray boltz

Ontnugtering bring altyd emosionele vervreemding. Elke keer wat 'n mens teleurgesteld in jou huweliksmaat is, stoot jy hom of haar 'n klein entjie verder weg, sonder dat jy dit eintlik doelbewus doen. Jy begin bietjie meer aandag gee aan jou werk, of aan jou vriende, of jy trek terug in jou eie leefwêreld. Uiteindelik begin elkeen sy eie lewe leef, en verdwyn die vonk uit die huwelik uit.

Suksesvolle man en vrou verhouding begin eerstens met die houding van die man. God het die man aangestel as die hoof van die huis, hoof van die vrou, en hoof van sy huisgesin, en die welstand van die verhouding rus op die man se skouers.

Vroue is emosionele wesens, terwyl mans logies is. 'n Volmaakte huwelik kan net plaasvind tussen twee volmaakte mense, en so iets is onmoontlik.

Mat 5:24 "....laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder....."

In die gedeelte sien ons stukkende verhoudings lê vir Jesus baie na aan die hart. Dis vir Hom so ernstig, dat Hy vereis om eers ons verhouding reg te stel voordat ons offers aan Hom bring. Maak eers jou stukkende verhouding reg voordat jy die diens bywoon en jou tiende gee. Jesus verwag van jou om self die eerste stap te neem - moet nie wag vir 'n volgende kans nie, of dat jou maat eerste moet begin nie, NEE jy moet die eerste stap neem. Moenie trots of selfsugtig wees nie, aan die einde is dit tog jy wat ongelukkig bly.

Jy moet self die verantwoordelikheid aanvaar om liefde in jou huwelik te onderhou en aan te vuur.

 Aan 'n begin van 'n verhouding gebeur liefde byna vanself. Jy het dikwels dinge beplan wat liefde aangevuur het. Julle was nie altyd bymekaar nie, en julle het geleenthede geskep om bymekaar te wees, so het julle geleentheid geskep vir julle liefde om te groei. Sodra julle getroud is, het julle skielik baie tyd vir mekaar, dus is dit nie nou nodig om spesiale geleenthede te skep om bymekaar te wees nie. Julle begin later saamleef met mekaar en gewoond raak aan mekaar.

Die vereiste vir oorvloed in die huwelik is groei. Die liefde tussen 'n man en vrou verskaf aan albei 'n ruimte om te groei. Dit kos nie baie intelligensie en grade en geleenthede om jou huwelik te laat groei nie - dit kos net toewyding - DIS AL.

God is die skepper van die huwelik. - NIE die stadsraad of provinsiale administrasie of die regering of die kerk nie. God alleen is die skepper van die huwelik, en as jy wil hê jou huwelik moet werk, moet jy weet dat God sekere reëls gegee het vir die huwelik.

Liefde kan jy kortweg beskryf as die begeerte om iemand beter te leer ken. As jou liefde verdwyn het, beteken dit dat jou begeerte om jou maat te leer ken het verdwyn. Maar nou: Liefde kan nie tot niet gaan nie, want God is liefde!!!! Dus is jy dan lief vir jou maat omdat God liefde is!!!!

As ons na die huwelik kyk, sien ons twee individue - twee individuele mense. God het die man geskep as 'n aksie wese, en die vrou as 'n reaksie wese.

Vrouens het 'n baie sterk behoefte aan sekuriteit. Die vrou se sekuriteit is nie 'n mooi huis, of mooi kar, of haar man se groot bevordering nie. Om alles in haar man se lewe te wees gee haar al die sekuriteit wat nodig is.

'n Vrou wil ook baie graag aanvaar word - vir wie sy is. Aanvaarding eis nie verandering nie, aanvaarding bring verandering.

Vrouens het 'n behoefte aan liefde. Dit beteken nie 'n kos toelaag en 'n mooi kar nie. Daar is net een manier waarop 'n vrou wil sien dat haar man haar liefhet, en dit is om dit vir haar uit te spel. Sy wil dit hoor, en sy wil bederf word. Sy wil die belangrikste in haar man se lewe voel.

'n Vrou wil ook graag 'n vriend hê. 'n Vrou se grootste behoefte is om haar man haar beste vriend en vriendin te maak. Sy wil graag hê julle moet dinge saam doen wat net maats saam doen.

Mans aan die ander kant het weer 'n behoefte om deur dit wat hy doen 'n verskil te maak. Hy't 'n ingeboude verlange om iets te doen wat sinvol is. Tog het hy ook 'n sterk behoefte dat ander mense moet kennis dra van dit wat hy nou doen, want dit laat hom belangrik voel.

Die man het 'n behoefte aan 'n spanmaat. Die man geniet dit wanneer sy maat saam met hom doen - al hou sy nie daarvan nie. Die man is in sy wese 'n doener, en dis juis in die saamdoen van dinge dat die man kameraadskap dat die man kameraadskap beleef. As vrou moet jy geleenthede soek om saam met jou man sekere dinge te doen wat vir hom spesiaal is.

'n Man soek 'n mooi vrou aan sy sy. Vir 'n vrou is 'n man se uiterlike nie so baie belangrik nie. Vir 'n man is sy vrou se fisiese voorkoms baie belangrik. 'n Mooi vrou doen iets aan 'n man se hormone en aan sy ego. Vir 'n man is sy vrou se voorkoms iets wat 'n refleksie op hom werp, omdat mense dikwels 'n man se sukses meet aan die voorkoms van sy vrou. Die vrou se voorkoms sê iets van sy manlikheid. Wanneer sy vrou mooi voel, laat dit hom goed voel.

'n Man soek 'n vrou wat trots is op hom en hom ondersteun. Die man wil graag hê die vrou moet vir hom 'n tuiste skep waar hy kan ontsnap van die druk van die werksomgewing. Sy moet hom as't ware beskerm teen die stres van buite, daarenteen moet sy altyd wys dat sy dink hy is die beste in alles wat hy doen. Dit gee hom meer selfvertroue en moed om groter uitdagings aan te pak.

Pred 4:9,10,11 " Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hul moeitevolle arbeid. Want as hulle val, kan die een sy maat optel........ verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm........"

·        Frans & Sariet Nortjé: Gekwalifiseerde Christen beraders en ook stigters van Keerpunt beradingsnetwerk in Pretoria.

¨       Gaan loer ook gerus in by ons webwerf: http://members.freemail.absa.co.za/fransn1

¨       Indien u raad benodig kan u ons kontak by sarietn@freemail.absa.co.za of onderstaande e-posadres. Of per pos: Posbus 82610 Doornpoort, 0017. Pretoria Suid Afrika.

¨       Ons bied ook naweek - lesings, seminare, praatjies en werkswinkels aan by instansies en gemeentes landwyd, u kan ons net kontak vir besonderhede indien u belang sou stel. Onderwerpe soos:- Waarom sukkel Christene met emosionele probleme soos depressie, verwerping, selfmoord gedagtes, swak selfbeeld, aggressie en woede, homoseksualisme, vrees en angs, skuldgevoelens, huweliksprobleme, geheu-gapings, verhoudings ens. Hoe om emosionele probleme te oorkom wat veroorsaak is deur bv. Aborsie, molestering, verkragting, traumas, okkulte ens.

¨       Laat weet ons gerus wat jy van die insetsels dink.