Deur
Sarita Nortje
Egskeiding is nooit maklik nie. Selfs al sou albei pare ooreenkom
om die huwelik te ontbind, is die skeiding nog steeds pynlik.
Wanneer daar kinders betrokke is, is die pyn nog meer intens,
omdat sensitiewe ouers toekyk hoe onskuldige kinders moet seerkry
wanneer die gesin uitmekaar skeur. Vir kinders is egskeiding die
verlies van liefde, die dood van 'n verhouding tussen ouers en
kinders. Daar word beweer dat egskeiding meer traumaties is as die
dood, aangesien egskeiding die gesin in twee skeur, waarby die
dood die oorblywendes nader aan mekaar bring.
Egskeiding, volgens statistieke, is baie traumaties vir kinders
onder 6-7 jaar en bo 13-14 jaar oud. Daar is gevind dat kinders
tussen die twee ouderdomme, die egskeiding moontlik effens
makliker kan hanteer.
Egskeiding het 'n groot effek op 'n kind se emosie en gedrag, maar
erge gedragsafwykings mag voorkom wanneer volwassenes die kinders
gebruik om mekaar te manipuleer.
Gewoonlik word egskeiding vir die kinders 'n realiteit wanneer
daar definitiewe verskuiwings plaasvind, bv: een van die partye
verlaat die bekende en geliefde omgewing.
Kinders, net soos hulle ouers, ervaar baie verwarrende emosies.
Ouers is egter in die posisie om hulle emosies en gevoelens te kan
hanteer. Kinders daarinteen is nie altyd in staat om hierdie
pyn te hanteer en verwerk nie. Kinders kom te staan voor 'n
situasie wat skielik omkeerbaar verander, en waarin hulle
magteloos voel om iets daaraan te doen.
Vir kinders is daar waardevolle persone, geliefde omgewings,
waardevolle artikels, herinneringe en waarde sisteme verlore.
Tydens die skeiding verloor kinders nie net 'n geliefde ouer nie,
maar gewoonlik is daar ook radikale veranderinge soos verhuising,
waar hulle moet afstand doen van hulle geliefde kamer, geliefde
speelplek, troeteldiere, maats, neefs, niggies en vriende. Hulle
ervaar baie intense magteloosheid en leegheid. Hulle probeer om
hierdie skielike pyn en leegheid te verwerk deur te baklei met
hulle broers / susters, te wil wegloop van die huis af, en deur
die ouer by wie hulle agterbly te beskuldig.
Kinders voel baie onseker en baie skuldig. Hulle voel dat hulle
lewe geen doel het nie, en afgestompte emosies en gedrag mag
voorkom. Elke kind reageer uniek op sy innerlike pyn, maar dit is
nodig vir die ouer om te weet dat daar verskeie fases is waardeur
die kind mag beweeg voordat aanvaarding sowat 8 maande later
plaasvind. Nie al die kinders gaan deur al die fases nie, en fases
is nie altyd in volgorde nie, maar deur kennis te hê kan die
ouers reeds help om kinders beter te verstaan en te ondersteun.
Dit neem tyd vir die kinders om die realiteit van die skeiding te
besef, die pyn en verlies van die geliefde te erken, om aan nuwe
omgewing gewoond te raak, en om nuwe vriendskappe te vorm. Elke
kind is uniek en reageer verskillend. Na egskeiding mag die kind
intense hartseer, pyn en alleenheid ervaar. Die kind mag diep
gevoelens van verwerping ervaar, terugtrek en weier om met die
buitewêreld kontak te maak, en met andere te meng.
Selfveroordeling mag voorkom. Kinders dink gewoonlik dat hulle die
skeiding kon keer as hulle meer gehoorsaam was, of beter huiswerk
gedoen het, of meer in die huis gehelp het. Ongegronde skuldgevoelens ontwikkel en kinders mag buierig en geïrriteerd raak en
onttrek.
Kinders ervaar gewoonlik aggressie en woede teenoor die persoon by
wie hulle agterbly. Hulle kan rusteloos word, impulsief optree, en
'n begeerte hê om die ouer te verneder en woede teenoor die ouer
te openbaar. In die stadium voel die kind uiters magteloos,
verward, onseker, leeg, en slaap sleg.
Skuldgevoelens, afsku, verwerping, angs, vrees, onsekerheid en
teleurstelling oorheers hulle gedagtes en gevoelens. Hulle voel
hulpeloos, hopeloos en magteloos. Die skeiding mag 'n fisiese
effek op die kind hê. Aanhoudende moegheid en hoofpyne kan
voorkom, verlies van eetlus, gewigsverlies verlies en slapeloosheid kan
voorkom. Maagpyne kan ook voorkom as gevolg van ingehoue spanning.
Emosioneel kan die kind tekens van depressie toon vanweë die
warboel van emosies. Die kind mag selfs die afwesige ouer se
persoonlikheid begin oorneem.
Op sosiale vlak ervaar die kind ook ontwrigting. Hulle is geneig
om te onttrek, of hulle raak so besig dat daar nie tyd is vir
sosiale verkeer nie.
Probleme ontstaan gewoonlik wanneer die kind die skeiding ontken,
en alle emosies onderdruk. Tekens hiervan kan wees dat die kind
weier om oor 'n baie lang tydperk met die geskeide ouer kontak te
maak, ernstige anti-sosiale gedrag soos drank en dwelm misbruik,
'n houding van ek gee vir niemand niks om nie, onttrekking, weier
enige samewerking en weier hulp, abnormale hiperaktiwiteit.
Luister versigtig en aandagtig. Hoor hulle nood - kinders praat
gewoonlik tussen die lyne. Moenie beskuldig en veroordeel nie.
Luister, verstaan, hoor. Moenie hulle druk om vinnig beter te voel
nie, help hulle om besluite te maak (moenie dat hulle agterkom jy
besluit vir hulle nie). Vra hulp vir klein takies·
Moenie hulle ontmoedig nie. Vergewe die ander party, daardeur maak
jy dit makliker vir die kinders om self te vergewe Vermy
konfrontasies met kinders waar beskuldigings rondgegooi word. Moet
nie vergoed vir die skeiding en kinders se pyn deur geld te gee,
kits kosse te koop, klere en juwele te koop nie. Gee net liefde en
aanvaarding by die hope. Help kinders om goeie herinneringe uit
die verlede lewendig te hou. Waar moontlik, moenie kinders te veel
ontwrig deur 'n hele nuwe lewensstyl vinnig aan te kweek nie. Hou
kinders by die roetine en verander stelselmatig. Moet nie kinders
dwing om die rol van die ouer in te neem nie. Moenie sê
"jy's nou die Pa / Ma van die huis" nie. Wees eerlik met
jou kinders, vertel hulle jy voel hartseer. Moenie die afwesige
ouer voor die kinders kritiseer nie. Moenie kinders gebruik as
speurder en hulle uitvra oor die ander ouer se doen en late nie.
Besef die kinders het 'n pa en ma nodig, moet hulle nie daarvan
weerhou as jy kwaad is vir die ander party nie. Moet nie enige
verhouding aanknoop met 'n ander maat voordat die kinders nie
gestabiliseer het nie. Gee hulle liefde, veiligheid en stabiliteit,
indien daar nie positiewe veranderinge is in 6-8 maande nie, kry
professionele hulp.
HOE KAN EK MY KIND HELP?
- Kinders ervaar gewoonlik skeiding as persoonlike verwerping en
is vreesbevange. Kinders is baie sensitief oor onsekerheid van
ouers.
- Verseker
die kinders dat hulle nie in jou pad is nie, en dat jy hulle nie
in die steek sal laat nie.
-
Gewoonlik ervaar die ouers self pyn.
- Dit
is raadsaam om eers 'n betroubare persoon te konsulteer vir jou
eie pynlike emosies - daardeur kan jy jou kind help as jy meer
perspektief het.
- Ouers moet verstaan dat kinders onskuldig is, en onskuldig pyn
moet verduur. Die kind het 'n behoefte om uiting te gee aan die
pyn. Verseker die kinders dat hulle gelief is en dat hulle versorg
sal word.
- Moet nie
probeer om nou albei ouers vir hulle te wees nie.
- Wees te
alle tye daar en beskikbaar.
- Laat die
kinders weet dat dit goed en aanvaarbaar is as hulle hul gevoelens
wys, maar moenie hulle dwing om dit te wys nie - wees taktvol
- Moenie
verbaas wees as daar tye van hartseer, frustrasie en onttrekking
is nie. Laat hulle verstaan dat jy beskikbaar is, dat jy verstaan,
en dat jy hulle aanvaar.
Frans
& Sariet Nortjé: Gekwalifiseerde Christen beraders en ook
stigters van Keerpunt beradingsnetwerk in Pretoria.
¨
Indien u
raad benodig kan u ons kontak by sarietn@freemail.absa.co.za
of onderstaande e-posadres. Of per pos: Posbus 82610 Doornpoort,
0017. Pretoria Suid Afrika.