EGSKEIDING EN KINDERS

Inspirasie | Emosionele Probleme | Tiener Depressie | Die Huwelik | Maskers Emosies | Geestelike Oorlogvoering | Egskeiding en Kinders | Keerpunt Beraders | Opleiding en Seminare | Kursus Datums | Kontak Ons | Omtrent Onsself | Springkastele

 

Egskeiding en kinders

 

Deur Sarita Nortje


Egskeiding is nooit maklik nie.  Selfs al sou albei pare ooreenkom om die huwelik te ontbind, is die skeiding nog steeds pynlik.  Wanneer daar kinders betrokke is, is die pyn nog meer intens, omdat sensitiewe ouers toekyk hoe onskuldige kinders moet seerkry wanneer die gesin uitmekaar skeur.  Vir kinders is egskeiding die verlies van liefde, die dood van 'n verhouding tussen ouers en kinders.  Daar word beweer dat egskeiding meer traumaties is as die dood, aangesien egskeiding die gesin in twee skeur, waarby die dood die oorblywendes nader aan mekaar bring.


Egskeiding, volgens statistieke, is baie traumaties vir kinders onder 6-7 jaar en bo 13-14 jaar oud.  Daar is gevind dat kinders tussen die twee ouderdomme, die egskeiding moontlik effens makliker kan hanteer.  


Egskeiding het 'n groot effek op 'n kind se emosie en gedrag, maar erge gedragsafwykings mag voorkom wanneer volwassenes die kinders gebruik om mekaar te manipuleer.  
Gewoonlik word egskeiding vir die kinders 'n realiteit wanneer daar definitiewe verskuiwings plaasvind, bv: een van die partye verlaat die bekende en geliefde omgewing.  


Kinders, net soos hulle ouers, ervaar baie verwarrende emosies.  Ouers is egter in die posisie om hulle emosies en gevoelens te kan hanteer.  Kinders daarinteen is nie altyd in staat om hierdie pyn te hanteer en verwerk nie. Kinders kom te staan voor 'n situasie wat skielik omkeerbaar verander, en waarin hulle magteloos voel om iets daaraan te doen. 


Vir kinders is daar waardevolle persone, geliefde omgewings, waardevolle artikels, herinneringe en waarde sisteme verlore.  Tydens die skeiding verloor kinders nie net 'n geliefde ouer nie, maar gewoonlik is daar ook radikale veranderinge soos verhuising, waar hulle moet afstand doen van hulle geliefde kamer, geliefde speelplek, troeteldiere, maats, neefs, niggies en vriende. Hulle ervaar baie intense magteloosheid en leegheid.  Hulle probeer om hierdie skielike pyn en leegheid te verwerk deur te baklei met hulle broers / susters, te wil wegloop van die huis af, en deur die ouer by wie hulle agterbly te beskuldig. 


Kinders voel baie onseker en baie skuldig.  Hulle voel dat hulle lewe geen doel het nie, en afgestompte emosies en gedrag mag voorkom.  Elke kind reageer uniek op sy innerlike pyn, maar dit is nodig vir die ouer om te weet dat daar verskeie fases is waardeur die kind mag beweeg voordat aanvaarding sowat 8 maande later plaasvind.  Nie al die kinders gaan deur al die fases nie, en fases is nie altyd in volgorde nie, maar deur kennis te hê kan die ouers reeds help om kinders beter te verstaan en te ondersteun. 


Dit neem tyd vir die kinders om die realiteit van die skeiding te besef, die pyn en verlies van die geliefde te erken, om aan nuwe omgewing gewoond te raak, en om nuwe vriendskappe te vorm.  Elke kind is uniek en reageer verskillend.  Na egskeiding mag die kind intense hartseer, pyn en alleenheid ervaar.  Die kind mag diep gevoelens van verwerping ervaar, terugtrek en weier om met die buitewêreld kontak te maak, en met andere te meng. 


Selfveroordeling mag voorkom. Kinders dink gewoonlik dat hulle die skeiding kon keer as hulle meer gehoorsaam was, of beter huiswerk gedoen het, of meer in die huis gehelp het. Ongegronde skuldgevoelens ontwikkel en kinders mag buierig en geïrriteerd raak en onttrek. 
Kinders ervaar gewoonlik aggressie en woede teenoor die persoon by wie hulle agterbly.  Hulle kan rusteloos word, impulsief optree, en 'n begeerte hê om die ouer te verneder en woede teenoor die ouer te openbaar. In die stadium voel die kind uiters magteloos, verward, onseker, leeg, en slaap sleg. 


Skuldgevoelens, afsku, verwerping, angs, vrees, onsekerheid en teleurstelling oorheers hulle gedagtes en gevoelens.  Hulle voel hulpeloos, hopeloos en magteloos. Die skeiding mag 'n fisiese effek op die kind hê.  Aanhoudende moegheid en hoofpyne kan voorkom, verlies van eetlus, gewigsverlies verlies en slapeloosheid kan voorkom.  Maagpyne kan ook voorkom as gevolg van ingehoue spanning. 


Emosioneel kan die kind tekens van depressie toon vanweë die warboel van emosies.  Die kind mag selfs die afwesige ouer se persoonlikheid begin oorneem. 
Op sosiale vlak ervaar die kind ook ontwrigting.  Hulle is geneig om te onttrek, of hulle raak so besig dat daar nie tyd is vir sosiale verkeer nie. 


Probleme ontstaan gewoonlik wanneer die kind die skeiding ontken, en alle emosies onderdruk. Tekens hiervan kan wees dat die kind weier om oor 'n baie lang tydperk met die geskeide ouer kontak te maak, ernstige anti-sosiale gedrag soos drank en dwelm misbruik, 'n houding van ek gee vir niemand niks om nie, onttrekking, weier enige samewerking en weier hulp, abnormale hiperaktiwiteit. 


Luister versigtig en aandagtig. Hoor hulle nood - kinders praat gewoonlik tussen die lyne. Moenie beskuldig en veroordeel nie. Luister, verstaan, hoor. Moenie hulle druk om vinnig beter te voel nie, help hulle om besluite te maak (moenie dat hulle agterkom jy besluit vir hulle nie). Vra hulp vir klein takies·

      Moenie hulle ontmoedig nie. Vergewe die ander party, daardeur maak jy dit makliker vir die kinders om self te vergewe Vermy konfrontasies met kinders waar beskuldigings rondgegooi word. Moet nie vergoed vir die skeiding en kinders se pyn deur geld te gee, kits kosse te koop, klere en juwele te koop nie. Gee net liefde en aanvaarding by die hope. Help kinders om goeie herinneringe uit die verlede lewendig te hou. Waar moontlik, moenie kinders te veel ontwrig deur 'n hele nuwe lewensstyl vinnig aan te kweek nie. Hou kinders by die roetine en verander stelselmatig.  Moet nie kinders dwing om die rol van die ouer in te neem nie. Moenie sê "jy's nou die Pa / Ma van die huis" nie.  Wees eerlik met jou kinders, vertel hulle jy voel hartseer. Moenie die afwesige ouer voor die kinders kritiseer nie.  Moenie kinders gebruik as speurder en hulle uitvra oor die ander ouer se doen en late nie.  Besef die kinders het 'n pa en ma nodig, moet hulle nie daarvan weerhou as jy kwaad is vir die ander party nie. Moet nie enige verhouding aanknoop met 'n ander maat voordat die kinders nie gestabiliseer het nie.  Gee hulle liefde, veiligheid en stabiliteit, indien daar nie positiewe veranderinge is in 6-8 maande nie, kry professionele hulp.


HOE KAN EK MY KIND HELP?


- Kinders ervaar gewoonlik skeiding as persoonlike verwerping en is vreesbevange.  Kinders is baie sensitief oor onsekerheid van ouers.

      - Verseker die kinders dat hulle nie in jou pad is nie, en dat jy hulle nie in die steek sal laat nie.

      - Gewoonlik ervaar die ouers self pyn.

      - Dit is raadsaam om eers 'n betroubare persoon te konsulteer vir jou eie pynlike emosies - daardeur kan jy jou kind help as jy meer perspektief het.

       - Ouers moet verstaan dat kinders onskuldig is, en onskuldig pyn moet verduur.  Die kind het 'n behoefte om uiting te gee aan die pyn.  Verseker die kinders dat hulle gelief is en dat hulle versorg sal word.

      - Moet nie probeer om nou albei ouers vir hulle te wees nie.

      - Wees te alle tye daar en beskikbaar.

      - Laat die kinders weet dat dit goed en aanvaarbaar is as hulle hul gevoelens wys, maar moenie hulle dwing om dit te wys nie - wees taktvol

      - Moenie verbaas wees as daar tye van hartseer, frustrasie en onttrekking is nie. Laat hulle verstaan dat jy beskikbaar is, dat jy verstaan, en dat jy hulle aanvaar.

 

        Frans & Sariet Nortjé: Gekwalifiseerde Christen beraders en ook stigters van Keerpunt beradingsnetwerk in Pretoria.

¨       Indien u raad benodig kan u ons kontak by sarietn@freemail.absa.co.za of onderstaande e-posadres. Of per pos: Posbus 82610 Doornpoort, 0017. Pretoria Suid Afrika.